Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Angs laat ‘bordeelbaas’ glo stuipe kry

Die leier van ’n vermeende bordeelsindikaat van Table View, Kaapstad, het reeds drie keer stuipe gekry in die Pollsmoor-gevangenis nadat sy nie haar medisyne ontvang het nie, het Joe Weeber, wat vir Shantel Bridger verskyn, Vrydag in ’n voorverhoor in die hooggeregshof in Kaapstad gesê.

Hy het die hof versoek om sy kliënt na die mediese eenheid van die gevangenis te skuif sodat sy die nodige medisyne kan kry.

Shantel Bridger, met die lang blonde hare, word na die aanhoudingselle geneem nadat sy in die hooggeregshof verskyn het. Foto: Adrian de Kock
Norman Bridger staan en keer dat sy vrou, Shantel, afgeneem word. Langs hom staan Camilla Rossouw. Foto: Adrian de Kock
Achmat Toffa is een van die beskuldigdes wat nog regsverteenwoordiging moet kry. Foto: Adrian de Kock
Fareez Allie glimlag vir sy familielede wat hom by die hof ondersteun het. Foto: Adrian de Kock

Regter Mark Sher het Bridger gevra wat gebeur het. Sy het gesê sy ly aan angs en het sekere medisyne nodig. As sy dit nie kry nie, klop haar hart uit ritme en sy raak flou.

Bridger het saam met haar medebeskuldigdes, haar man, Norman Bridger (45), haar seun Robin Reyneke (27),

Juan Warren (39), Achmat Toffa (41), Camilla Rossouw (29), Fareez Allie (35), Natasha Chang (38), Michael D’Oliviera (37) en Babalwa Nozigqwaba in die hof verskyn.

Die hof is meegedeel dat van die beskuldigdes, onder wie Toffa en Allie, nog nie regsverteenwoordiging het nie en hulle moet besluit of hulle private regsverteenwoordiging gaan bekom en of hulle om regshulp gaan aansoek doen.

Nadat Weeber die hof oor sy kliënt se mediese toestand ingelig het, het Bridger gesê haar seun het drie dae vantevore haar medisyne vir haar in die tronk gebring.

Sher het gesê hulle moenie staatmaak op die staat nie en moet die medisyne op ’n ander manier ook by haar probeer kry. Sher het die saak tot 11 Mei vir nog ’n voorverhoor uitgestel.

Die beskuldigdes word ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad aangekla omdat hulle na bewering as ’n sindikaat opgetree het deur bordele te bestuur.

Bridger se taktiek was glo om jong vroue, van wie sommige minderjarig was, afhanklik van dwelms te maak en hulle dan as sekswerkers in te span om vir hul dwelms te kan betaal. Met behulp van haar werknemers het sy geld van verskeie hooggeplaaste klante afgepers deur te dreig dat videomateriaal van hul seksuele aktiwiteite met sekswerkers op sosiale media versprei sal word. Die seun van ’n bekende Kaapse sakeman is een van hul slagoffers. Hy het na bewering sowat R2,8 miljoen oor ’n paar jaar aan Bridger betaal. Bridger het na bewering van haar sekswerkers met bedlampe geslaan as hulle nie wou doen wat sy sê nie.

Daar is verskeie aanklagte waaronder rampokkery, geldwassery, ontvoering en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die klagstaat beslaan meer as 60 bladsye.

Bridger en Warren is die twee hoofbeskuldigdes wat glo die sindikaat bestuur het.

Die beskuldigdes is in Februarie 2017 in hegtenis geneem nadat die Valke “Project Madame” (die naam van die ondersoek) ’n paar jaar ondersoek het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.