Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Anika-saak kry nóg ’n belanghebbende

Die man wat geïmpliseer is in ’n nota van Anika Smit se pa, is Woensdag in die landdroshof in Pretoria-Noord as ’n belanghebbende in die geregtelike ondersoek (GO) na haar dood gevoeg.

Ryno Brink sou oorspronklik as ’n getuie geroep word. Stef Kruger, prokureur vir Anika se pa, Johan Smit, het egter Dinsdag ’n nota ingehandig wat die pa op 8 Julie 2010 gemaak het.

Hierin het Smit geskryf dat ’n vriendin van Anika hom vertel het van stories oor sy dogter se moord. Dié vriendin was Hanrika Beukes.

Luidens dié “stories” het Brink op 10 Maart 2010, die dag van die moord, na Anika se huis gegaan.

Brink wou, volgens Smit se notas, seks met Anika gehad het.

Ryno Brink in die getuiebank in die hof.Foto: Hanti Otto

Smit se nota van sy gesprek met die vriendin lui verder: “Toe Anika weier het hy (Brink) haar geslaan en haar neus gebreek. Hanrika vertel Anika hardloop by haar kamer in en probeer die deur toedruk. Ryno het te ver gegaan. Hy het vir Nico gebel wat ook hiernatoe gekom het. Volgens haar (Hanrika) se storie was daar vyf persone – wat ek betwyfel. Die sieners praat van drie persone”.

Die “Nico” verwys na Nico Venter, ’n gewese kêrel van Anika, en ook ’n belanghebbende in die GO.

Adv. Tania Carstens, aanklaer, het Woensdag met die aanvang van die hofverrigtinge gesê: “Dit was die staat se intensie om mnr. Brink as ’n getuie aan te bied, maar na sekere stellings en bewerings in die hof deur die oorledene se pa, is die implikasie dat die hof kan bevind dat hy (Brink) ’n belanghebbende moet wees”.

Carstens het ook in die hof bevestig Brink het destyds ’n verklaring afgelê, waarin hy “in ’n mate” ’n alibi vir Venter verskaf het (vir tydens die moord). Daar is later egter nog ’n verklaring van Brink afgeneem waarin teenstrydighede voorkom.

Landdros Pierre Wessels het gevra of daar geen ander verklarings is wat Brink met die moord verbind nie.

Carstens het geantwoord Smit se notas was die eerste wat die staat van daardie inligting verneem het. Sy het gesê hulle sal as deel van die verdere ondersoek wel DNS-toetse op Brink wil doen, en dit in sy eie belang sal wees om ’n regsverteenwoordiger aan te stel.

Wessels het toe vir Brink tot die lys belanghebbendes gevoeg en sy regte aan hom verduidelik.

Die GO is uitgestel na September sodat Brink ’n regsverteenwoordiger kan aanstel.

*Anika (17) se naakte lyk is op 10 Maart 2010 in haar pa se huis in Theresapark, Pretoria, gevind. Sy is seksueel met ’n bottel aangerand en haar hande is verwyder. Nadat nie die hande of ’n verdagte opgespoor kon word nie, is daar in 2014 besluit om ’n GO te hou.

Dit is ’n ondersoek om te bepaal of iemand vir die moord verantwoordelik gehou kan word. Daar is nie “beskuldigdes” in ’n GO nie, totdat die hof ’n bevinding in daardie opsig maak. Mense wat wel direkte belang by die ondersoek het, gewoonlik weens sekere inligting en getuienis wat aan die lig kom, word as belanghebbendes gevoeg.

Meer oor:  Anika Smit  |  Moordsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.