Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Apartheidsdade: ANC moet nou sê

Die regering sal moet verduidelik waarom hy ná 1994 die vervolging weens moorde op ANC-aktiviste gedurende die apartheidsera gekeer het.

João Rodrigues

Dit volg op ’n ondubbelsinnige uitspraak van vier appèlregters Maandag dat die regering van oudpres. Thabo Mbeki by die nasionale vervolgingsgesag ingemeng het om apartheidsvervolgings te keer.

Die regters het bevind dat die regering tussen 2003 en 2017 ingemeng het in vervolging teen meer as 300 beweerde moordenaars, wat luidens die finale verslag van die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) vervolg behoort te word weens moorde op teenstanders van die destydse NP-regering.

Adv. Shamila Batohi, direkteur van nasionale vervolging, moet ná die uitspraak toesien dat die inmenging ondersoek word en besluit of vervolgings weer ingestel moet word.

Volgens die ministerie van justisie gaan ’n afgetrede regter selfs aangestel word om die nasionale vervolgingsgesag (NVG) te help besluit of kabinetslede vervolg moet word omdat hulle in die sake van die NVG ingemeng het.

Die regters het ook bevind dat ’n voormalige veiligheidspolisieman, João Rodrigues, vervolg moet word op aanklagte van moord op die SAKP-aktivis Ahmed Timol, amper 50 jaar nadat Timol op 27 Oktober 1971 uit die kantoor van die veiligheidspolisie op die tiende verdieping van die destydse John Vorsterplein na sy dood geval het.

Rodrigues het geappelleer teen ’n beslissing dat hy vervolg moet word. Hy het aangevoer dat ’n regverdige verhoor nie moontlik is nie weens die tydsverloop sedert Timol se dood. Hy het die hof gevra vir ’n bevel dat sy vervolging permanent gestaak moet word.

Die vertraging is volgens hom meegebring deur inmenging deur kabinetslede en Mbeki self wat toegesien het dat ondersoekwerk nie gedoen word nie.

Die bewering is onder meer gestaaf deur getuienis van adv. Vusi Pikoli, voormalige direkteur van nasionale vervolging, en twee senior aanklaers, advv. Torie Pretorius en Anton Ackermann.

Volgens hulle het Brigitte Mabandla, minister van justisie tydens Mbeki se presidentstermyn, “politieke stappe gedoen om strafregtelike ondersoeke en moontlike vervolging van politieke moorde te bestuur”, lui ’n beëdigde verklaring van Pretorius.

Pikoli is in 2007 deur Maban­dla oor die kole gehaal oor mediaberigte dat ondersoeke van stapel gestuur is na drie voormalige polisiemanne wat Nokuthula Simelane, ’n MK-lid, na bewering gemartel en vermoor het. Pikoli is ’n paar maande later deur Mbeki geskors omdat hy Jackie Selebi, voormalige kommissaris van polisie, wou vervolg.

Ackermann is gekeer om die polisiemanne te vervolg wat eerw. Frank Chikane in die apartheidsjare na bewering probeer vergif het. Die appèlhof het ook ses kommissarisse van die WVK toegelaat om as vriende van die hof tot die appèlverhoor toegelaat te word. Die ses – Yasmin Sooka, Dumisa Ntsebeza, Wendy Orr, Mary Burton, Glenda Wildschut en Faizel Randera – het skriftelike en mondelinge voorleggings aan die hof gedoen.

Rodrigues het aangevoer dat die vertragings met sy eie vervolging die billikheid van sy verhoor aangetas het. Sy verhoor sal volgens hom uitloop op talle vervolgings in soortgelyke sake teen voormalige polisielede in die apartheidsjare.

“Die kwessie van politieke inmenging deur die uitvoerende gesag en die staatspresident in die vervolging van misdade soos hierdie en die uitwerking wat dit op toekomstige sake kan hê, is beslis van belang,” het appèlregter Aubrey Ledwaba, wat die meerderheidsuitspraak gelewer het, gesê.

Chrispin Phiri, woordvoerder van die minister van justisie, Ronald Lamola, sê die inmenging in die WVK-sake destyds vereis dat dit deeglik ondersoek word.

“Die Rodrigues-uitspraak vereis dat die publiek versekerings kry van die kabinet en van die NVG dat die soort inmenging wat in die WVK-sake gebeur het, nooit weer sal gebeur nie,” sê Phiri.

Meer oor:  Shamila Batohi  |  João Rodrigues  |  Ahmed Timol  |  Apartheid  |  Aktiviste  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.