Alle oë is Vrydag op die appèlhof in Bloemfontein gerig wanneer die ministers van justisie, korrektiewe dienste en gesondheid, asook die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die Raad op Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) teen ’n hofuitspraak appelleer wat vrywillige genadedood gewettig het.
Die appèlhof sal moet beslis of die Grondwet voorsiening maak vir die reg om met behulp van ’n derde party (in dié geval ’n dokter) te sterf.
Dít kom nadat regter Hans Fabricius verlede jaar in die hooggeregshof in Pretoria beslis het dat adv. Robin Stransham-Ford (65), ’n kankerlyer, ’n dokter kon vra om sy lewe met ’n dodelike middel te beëindig.
Stransham-Ford is dood sowat twee uur voordat die hofbevel op 4 Mei uitgereik is.
Cause for Justice (CFJ), wat as vriend van die hof toegelaat is, sê dit is ’n baie belangrike, tog omstrede saak aangesien dit die land se eerste genadedoodsaak was sedert die inwerkingtrede van ons Grondwet. Volgens dié menseregteorganisasie moet die hof ook onder meer beslis of die gemeenregtelike misdade van moord en strafbare manslag, wat betref dat dit voorsiening maak vir ’n algehele verbod daarop om jou eie lewe met die hulp van ’n mediese dokter te neem, inbreuk op Stransham-Ford se grondwetlike reg tot menswaardigheid en vryheid tot liggaamlike en sielkundige integriteit sou maak.
Die RGBSA voer aan dat die doel van mediese dokters is “om lewe te bewaar en dat daar ander alternatiewe beskikbaar is wat deur middel van moderne medisyne pyn en lyding in so ’n mate kan verlig dat dit nie nodig is om jou lewe te neem nie”.