Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Appèlhof sê renosterstropers moet 25 jaar tronk toe
Jabulani Ndlovu, Forget Ndlovu en Sibusibo Ndlovu vroeër in die hooggeregshof in Makhanda. Foto: Argief

Drie veroordeelde renosterstropers se skuldigbevinding en effektiewe vonnis van 25 jaar tronkstraf is Dinsdag deur ’n volbank regters in die hooggeregshof in Makhanda, Oos-Kaap, bekragtig.

Die regters het die appèl van Jabulani Ndlovu (42), Forget Ndlovu (40) en Sibusibo Ndlovu (40) van die hand gewys, wat aangevoer het hul vonnis is skokkend en onvanpas.

Hulle het ook kapsie gemaak teen hul skuldigbevinding en aangevoer bewyse in die saak is sonder ’n lasbrief deur die polisie bekom.

In hul uitspraak van Dinsdag sê die regters die oorspronklike verhoorhof het nie fouteer in die opweeg van toepaslike faktore vir die vonnis nie.

“Die bewyse wat voorgelê is, het die omvang van die vlaag renosterstropery in die land onthul. Tussen 2012 en die datum van die verhoor is 6 913 renosters vir hul horings afgemaai. Hiervan was 91 in die Oos-Kaap gestroop,” lui die uitspraak.

Vonnisoplegging

Die mans is in April 2019 in die hooggeregshof gevonnis, waar regter Jeremy Pickering hulle skuldig bevind het aan meer as 50 aanklagte. Die aanklagte spruit uit tien stropingsvoorvalle tussen 2013 en 2016 in verskeie reservate in die Oos-Kaap, waarin 13 renosters vrekgemaak is.

’n Spoor van hul stropery is blootgelê nadat die polisie die trio op 17 Junie 2016 by ’n gastehuis net buite Makhanda vasgetrek het. In hul kamer is ’n “vars geoeste” renosterhoring van 72 cm aangetref. Die polisie het dieselfde aand ’n pylgeweer, M99-verdowingsmiddels, selfone, ammunisie, ’n saag en verdowingspyle gekonfiskeer.

Adv. Buks Coetzee, staatsaanklaer, en die polisie het dié selfone en pylgeweer onder meer gebruik om die beskuldigdes met die ander stropingsvoorvalle te verbind.

Die drie beskuldigdes het in hul appèl benadruk al dié bewyse, waarop by die gastehuis beslag gelê is, moet ontoelaatbaar verklaar word, omdat die polisie sonder ’n lasbrief by die gastehuis toegeslaan het.

Gedurende die verhoor het die betrokke polisielede van die teenstropingseenheid in ’n binneverhoor getuienis gelewer oor hoe hulle met ’n ondersoek besig was toe hulle inligting van die Ndlovu’s by die gastehuis ontvang het. Hulle wou slegs deur die mans se motor se venster vir stropingstoerusting kyk, waartydens een van die Ndlovu’s die gastekamer se deur oopgemaak en die polisie teëgekom het. Die polisie het hierna die kamer binnegegaan om bewyse te “red”.

Regteskending

Pickering het die bewyse toelaatbaar verklaar nadat hy tevrede was dat die polisie nie vooraf beplan het om die kamer te deursoek en beskuldigdes se regte met opset te skend nie.

Die appèlhof het met Pickering saamgestem dat die polisieoptrede nie deel van ’n slinkse plan was nie.

“Met die oorweging van die faktore afsonderlik en in die geheel, is ek tevrede dat die verhoorhof korrek was in sy bevinding om die bewyse toelaatbaar te maak, omdat die uitsluiting daarvan die regspleging skade sou berokken,” lui die uitspraak.

Dr. William Fowlds, ’n plaaslik bekende wildveearts wat by verskeie van die grutonele van renosterstroping uithelp, het sy verligting uitgespreek oor die beslissing.

“Met al die deeglike bewyse in die verhoor, was ons van mening daar hoef eintlik nie ’n appèl te wees nie. Maar ons is dankbaar die appèl is afgekeur. Dit is ’n goeie dag vir renosters en ’n pluimpie vir die werk wat agter die skerms gebeur.”

Hy glo ook dié vonnis sal nog verskeie soortgelyke hofsake beïnvloed.

Meer oor:  Renosters  |  Appèlhof  |  Stropers  |  Renosterstropers  |  Vonnisoplegging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.