Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Appèlregter verwerp klagte teen Cameron

Die Regterlike Dienskommissie (RDK) het ’n klag oor oudregter Edwin Cameron se optrede in die saak in die konstitusionele hof oor die Universiteit Stellenbosch (US) van die hand gewys.

Oudregter Edwin Cameron in 2019 gedurende sy onderhoud met Rapport. Foto: Elizabeth Sejake

Die klag is ingedien deur adv. Johan Bruwer, wat onder presidente FW de Klerk, Nelson Mandela en Thabo Mbeki as adjunkhoof-staatsregsadviseur ge­dien het. Die klag spruit uit gebeure nadat die Matierektor, prof. Wim de Villiers, Cameron genader het om hom beskikbaar te stel vir die pos as US-kanselier terwyl die taalsaak aan die gang was.

Cameron, wat beskou word as een van die land se voorste regsgeleerdes, het die uitspraak in die saak geskryf. Die beslissing was in die guns van die universiteit.

Bruwer het aangevoer Cameron se optrede was “onversoenbaar met of ongepas vir ’n regter” en nadelig vir die onafhanklikheid, waardigheid en doeltreffendheid van die hof.

Cameron, nadat hy tot kanselier verkies is, moes nie toegelaat gewees het om die uitspraak in die konstitusionele hof oor Gelyke Kanse se saak oor die US-taalbeleid te lewer nie, volgens Bruwer.

Nie tóé ’n verpligting op Cameron.

Bruwer het gesê Cameron het gereelde kontak gehad met De Villiers en ander rolspelers terwyl die saak hangende was. Die eerste gesprekke het plaasgevind vyf weke voordat die saak aangehoor is en Cameron het sy kollegas eers agt weke later daarvan ingelig.Twee weke later het hy en De Villiers mekaar in die geheim op die O.R. Tambo-lughawe ontmoet en nog ’n week later is hy eenparig tot kanselier verkies. Twee weke later is die uitspraak in die taalsaak gelewer.

Bruwer het beweer Cameron het die Wet op die Kommissie vir Geregtelike Dienste oortree toe hy op 29 September 2019 in ’n onderhoud met Rapport oor die taalsaak gepraat het voordat sy uitspraak gelewer is.

Die appèlregter Dumisani Zondi het Bruwer se klagte Maandag van die hand gewys. In sy uitspraak sê Zondi dat Cameron nie die benoeming aanvaar het teen 8 Augustus 2019 nie, die dag waarop die taalsaak aangehoor is.

Zondi sê daarom was daar nie toe ’n “voldoende basis vir ’n verpligting” op Cameron om De Villiers se toenadering bekend te maak nie.

“Hy (regter Cameron) het die partye uitgenooi om alle kontak en korrespondensie tussen hom en diegene betrokke te ondersoek. Daar was geen reaksie op hierdie uitnodiging van die partye nie.”

Oor die onderhoud met Rapport sê Zondi: “Ek het die koerantartikel gelees . . . en dit ondersteun nie die bewering waarop hierdie klag gegrond is nie.”

Cameron het destyds aan Rapport se Hanlie Retief gesê dat dit “voorbarig” van hom sou wees om “selfs sydelings kommentaar te lewer”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.