Philip April (25), wat daarvan aangekla is dat hy sy gewese meisie in Oktober verlede jaar vermoor het, gaan in die hooggeregshof in Kaapstad verhoor word.
Sy eerste voorverhoor is op 7 Augustus in die hof.
April sal dan vir die duur van die verhoor na ’n gevangenis in Kaapstad oorgeplaas word.

Allison PlaatjiesFoto: Facebook
Hy word daarvan aangekla dat hy sy gewese meisie, die jong onderwyseres Allison Plaatjies (26), vermoor het deur haar keel met ’n mes te sny en haar herhaaldelik met ’n mes en/of ander skerp voorwerpe te steek.
Luidens die lykskouingsverslag is Plaatjies se dood veroorsaak deur ’n “baie groot sny aan die keel” wat daartoe gelei het dat sy haar doodgebloei het.
Die staat het sy volledige akte van beskuldiging in April tydens Philip se laaste verskyning in die landdroshof in Clanwilliam op hom bedien.
Allison was ten tyde van haar dood ’n onderwyseres aan die Primêre Skool Sederberg in Clanwilliam.
April staan tereg op aanklagte van moord en diefstal.
Die staat voer aan dat hy ook Plaatjies se Hyundai i20 gesteel het. Haar selfoon was ook weg op die dag dat haar lyk gevind is.

Philip April en Allison Plaatjies in 2017.Foto: Facebook
April is op 27 Oktober 2019 naby Malmesbury in besit van haar motor in hegtenis geneem.
Hy het glo op 30 Oktober ’n verklaring by die polisie afgelê.
Luidens die akte van beskuldiging is Plaatjies, of Sussie soos haar familie en vriende haar genoem het, op 26 Oktober 2019 laas lewend in April se geselskap gesien.
Sy het hom dié dag by ’n vriend se huis in Viooltjiestraat, Clanwilliam, gaan haal.
Hulle is toe glo na ’n tuinwoonstel in Katjiepieringstraat wat sy gehuur het.
Plaatjies is oorspronklik van Swellendam in die Wes-Kaap.
Die twee het volgens die akte van beskuldiging ontmoet terwyl hulle albei onderwysstudente aan die Kaapstadse Universiteit vir Tegnologie (KSUT) was. Hul verhouding het in 2013 begin.
Allison het haar studie in 2018 voltooi en het daarna ’n pos as ’n onderwyseres in Clanwilliam gekry. April het nog studeer.
Vroeër is berig dat sy vermoedelik tot die dood om haar lewe geveg het.