Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Arts baie seker oor identiteit van aanvaller, hoor hof

Twee jaar nadat ’n dokter van Pretoria aangeval is, onthou sy sonder enige twyfel die gesig van haar aanvaller.

Dit het Woensdag duidelik geword uit die polisie se getuienis oor die aanval op dr. Marti Koen.

Die verhoor van Justice Sethlangu (37), wat onder meer beskuldig word van die aanval op Koen, is Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria hervat.

Justice Sethlangu (37) luister Woensdag na sy regsverteenwoordiger, adv. Jerry Mtshwati (regs), tydens ’n pouse in die hooggeregshof in Pretoria.Foto: Isabel Venter

Hy ontken skuld op hierdie aanklag, asook op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, asook ander aanklagte wat met twee afsonderlike huisrooftogte in die Kameeldrift-omgewing noordoos van Pretoria verband hou.

Drie rowers het Koen op 21 Junie 2016 in haar huis aangeval. Hulle het ’n vuurwapen op haar gerig, haar vasgebind en beroof.

Sethlangu is op 5 Julie 2017 by sy huis in Mamelodi in hegtenis geneem. Die ander verdagtes is nog op vrye voet.

Die staat voer aan Sethlangu was een van dié aanvallers.

Justice Sethlangu (37) Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria waar hy onder meer op die moord op Johann Heunis in 2016 teregstaan.Foto: Isabel Venter

Volgens die polisie se getuienis het Koen Sethlangu binne minute uitgewys. Daar was by haar geen twyfel dat hy een van haar aanvallers was nie.

Koen het vroeër getuig dat sy Sethlangu in Maart vanjaar in ’n polisie-uitkenningsparade uitgeken het.

Op ’n vraag van Sethlangu se regsverteenwoordiger, Jerry Mtshwati, het Koen gesê sy was nie so getraumatiseerd dat sy vergeet het hoe haar aanvaller gelyk het nie.

“Hy (Sethlangu) was so naby ek kon sien hoe hy sweet . . . ek is gedreig met die dood . . . dit is nie sommer iets wat ’n mens vergeet nie,” het sy getuig.

Ao. Tebogo Mabitsela het Woensdag ook in die hof getuig oor drie vingerafdrukke wat hy op ’n glasdeur in Koen se huis gekry het.

Een behoort aan Sethlangu, het Mabitsela getuig.

Die oorblywende vingerafdrukke moet nog geëien word.

Intussen het Sethlangu se vingerafdrukke dramaties verander sedert hy in hegtenis geneem is.

Hy (Sethlangu) was so naby ek kon sien hoe hy sweet . . . ek is gedreig met die dood . . . dit is nie sommer iets wat ’n mens vergeet nie.

Mabitsela het by die hof ’n nuwe afdruk van Sethlangu se regterduim vir verifikasie-doeleindes geneem. Groot was sy verbasing toe hy sien dat dié skielik onherkenbaar vermink is.

“Dit het vir my gelyk asof hy die boonste vel afgesny het. Die oppervlak het baie grof gevoel en dit was vol snye wat onlangs gemaak moes gewees het,” het Mabitsela getuig.

Ten spyte hiervan kon Mabitsela steeds die nuwe afdruk met dié op die misdaadtoneel vergelyk en het bevind dat albei aan Sethlangu behoort.

Buiten die aanval op Koen word Sethlangu ook daarvan beskuldig dat hy en ander in 2016 in dieselfde omgewing by twee ander huisrooftogte betrokke was.

In Junie 2016 is Stephanus Lourens en Maria Beets ook in hul huis vasgebind en beroof.

In Oktober van dieselfde jaar is Johann Heunis voor sy vrou, Mariandra, en hul oudste dogtertjie, Mieke, doodgeskiet. Mariandra was toe hoogswanger met hul vierde kind, André.

Sethlangu ontken skuld op Heunis se moord en sewe ander aanklagte wat met die huisrooftogte verband hou.

Mariandra sal na verwagting Donderdag getuig.

Meer oor:  Dr. Marti Koen  |  Justice Sethlangu  |  Pretoria  |  Dokter  |  Twee Jaar Later  |  Aanvaller  |  Aangeval  |  Gesig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.