Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Arts sê glo dwelmslawe verdien nie die lewe

Die base van ’n staatshospitaal in Pretoria het glo opdrag gegee dat dwelmverslaafdes wat by die noodeenheid opdaag nie behandel word nie, “want hulle waardeer nie die lewe nie”.

Dít is een van die skokaantygings wat Martha Dekker (56), ’n weduwee van Centurion, in hofstukke maak.

Martha Dekker . . . sy eis miljoene rande van die Gautengse departement van gesondheid weens beweerde nalatigheid. Foto: Deon Raath

Sy eis R9,4 miljoen van die regering nadat haar man, Chris (42), in 2017 in die Kalafong-hospitaal, wes van Pretoria, dood is.

Die Gautengse LUR vir gesondheid het nie op die eis gereageer nie en Dekker vra nou die hof vir ’n verstekvonnis.

Dekker sê aan Rapport dat haar man nogal tot in die hoek van die saal geskuif is, glo “sodat hy nie in enigiemand se pad is nie”.

“Ek loop steeds met woede rond. Daar is tye wat ek voel ek wil die hospitaal gaan afbrand,” sê sy.

Volgens Dekker het haar man vroeër dagga en rocks (kokaïen) gebruik, maar hy was in die proses om dit af te sweer.

“Hy het nooit ’n ernstige probleem gehad nie, maar het so af en toe die pad byster geraak.”

Sy sê haar man het ses maande voor sy dood met mediese bystand opgehou dwelms gebruik.

Daar is tye wat ek voel ek wil die hospitaal gaan afbrand.

Daarvoor het hy die voorskrifmedikasie Urbanol (’n kalmeerpil), sitalopram (’n anti-depressant) en metadoonstroop (’n pynstillende opioïed) gedrink.

“Die medikasie het hom baie lomerig gemaak en hy het soms vergeet hoeveel medikasie hy drink,” sê sy.

Op 13 Februarie 2017 kon sy nie haar man, ’n werktuigkundige, wakker kry nie. Sy het ’n ambulans gebel wat hom Kalafong toe geneem het. Hy was in ’n koma toe die ambulans opdaag.

Die dokters kon met verskeie inspuitings en ingrypings hom bybring.

Volgens haar het die dokter wat hom behandel het, gesê hy moet in die waakeenheid opgeneem word, maar tot haar verbasing het dit nooit gebeur nie.

Sy en haar seun het haar man die volgende dag om 12:00 besoek.

“Ek was uiters verbaas dat hy in die algemene saal was,” sê sy.

“Chris het in ’n stadium wakker geword en ons het ’n bietjie gesels en grappies gemaak.”

Sy is huis toe om vir hom klere en kos te kry, maar toe sy om 17:50 terugkom by die hospitaal, was die gordyne om sy bed toegetrek.

“Ek het gedink hy word gewas, maar toe ek die gordyn ooptrek, kry ek die skok van my lewe.”

Haar man se lyk was in lakens toegedraai en met toue vasgebind.

“Ek was histeries, maar die personeel het geweier dat ons hom mag sien.

“Ek kon my oë nie glo nie.

“Ons het dan die oggend nog gelag en gesels.

“Niemand het my eens laat weet hy is dood nie.”

Toe sy die volgende dag terugkeer om antwoorde te kry oor haar man se dood, het ’n personeellid vir haar gesê van die dokter wat hulle belet het om hom te behandel omdat hy kwansuis ’n dwelmverslaafde is.

“Die dokter se houding was dat dwelmverslaafdes nie verdien om te lewe nie.

“Vir my gaan dit oor nalatigheid.

“Dit is ’n skande en ’n onreg dat Chris nooit ordentlike behandeling gekry het nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.