Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
As dogtertjie verkrag: My pa oplaas skuldig

Dit was toe haar pa haar drie jaar gelede uit die bloute bel en sê hy is alleen tuis saam met ’n minderjarige kind dat Chantelle Akers (48) besluit het om hom aan te kla van verkragting.

Chantelle Akers: “Die jare van stilbly het my lewe verwoes.” Foto: Lulama Zenzile, Huisgenoot

“Dít was te veel vir my. Ek kon nie toelaat dat hy dalk nog ’n kind se lewe verwoes nie. Dit het my die moed gegee om polisie toe te gaan,” sê sy.

Haar pa, Lionel Potgieter (70), ’n afgetrede pastoor in die Heilsleër, is dié week in die streekhof in Uitenhage skuldig bevind daaraan dat hy Akers as kind oor ’n tydperk van ses jaar gemolesteer en verkrag het.

Vir Akers, wat maar 11 jaar oud was toe die molestering begin het, was die uitspraak ’n groot verligting.

“My grootste vrees was wat sal gebeur as hy onskuldig bevind word,” het sy die afgelope week gesê.

“Hy het 37 jaar gelede dit in my geheue ingeprent dat niemand my sal glo nie. Ek het daarom nooit verwag dat dit ooit gaan gebeur nie.”

‘Hy was regdeur die verhoor die ene kapokhaantjie.’

Landdros Nkululeko Nogcantsi het bevind Potgieter het in die hof gelieg en gerieflikheidshalwe sekere besonderhede “vergeet” toe hy oor die verkragting uitgevra is. Hy het Akers se getuienis as betroubaar en geloofwaardig aanvaar.

“Dit was vir my ’n bevestiging oor waar die skuld lê – dat ek die slagoffer was van sy boosheid,” sê Akers. “Ek hoef nie meer skaam te wees om deur hom gebruik te wees nie.”

Potgieter het erken hy het sy dogter betas, maar hy het ontken dat hy haar verkrag het.

“Hy was regdeur die verhoor die ene kapokhaantjie en het geen greintjie berou getoon nie,” sê Akers.

Sy was self vir ’n volle dag in die getuiebank, maar Maandag, toe die uitspraak gelewer is, het sy nie kans gesien om haar pa weer te sien nie. Haar ma, wat in 1987 van hom geskei is nadat sy van die molestering uitgevind het, was wel daar.

Akers vertel die molestering het begin toe haar pa een aand sy hand onder die kombers tussen haar bene ingedruk het terwyl die hele familie sit en TV
kyk het.

Later moes sy saans saam met hom na sy kantoor toe gaan waar hy dinge verder gevoer het.

Sy het aan anoreksie begin ly.

“Ek het geen beheer oor my eie liggaam gehad nie weens sy misbruik. Al wat ek kon beheer, was my kosinname.”

Dit was bevrydend om ná al die jare daaroor te praat, sê sy.

“Die jare van stilbly het my lewe verwoes. Ek het verhoudings gekies waarin ek emosioneel mishandel is en ek was ’n afsydige ma vir my eie kinders. Ek was te bang om hulle op ’n onvanpaste manier vas te hou en ek sou hulle nooit liefkoos nie.”

Haar enigste uitweg was uiteindelik om te praat.

“Dit het my geleer om van myself te begin hou. Drie jaar later is ek gelukkig met my eie geselskap,” sê sy.

“Ek wil hê hy moet tronk toe gaan,” sê sy reguit. “Dit sal my help om berusting te kry.”

Meer oor:  Chantelle Akers  |  Lionel Potgieter  |  Verkragting  |  Pastoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.