Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘As polisie gereageer het, was hofbevel nie nodig’

Dr. Motodi Samuel Maserumule glo AfriForum is “van Bo gestuur” nadat dié burgerregte-organisasie hom Vrydagmiddag gehelp het om ’n dringende tussentydse hofbevel teen grondbesetters te bekom.

Dr. Motodi Samuel Maserumule Vrydag in die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Hanti Otto

Luidens die bevel van die hooggeregshof in Pretoria moet die besetters sy grond verlaat en moet die minister van polisie en die bevelvoerder van die Soshanguve-polisie die balju bystaan om die bevel af te dwing en die horde besetters se strukture af te breek.

Maserumule het sedert Maandag alle wetlike stappe gedoen om die plakkers weg te kry, maar is met “vyandigheid en dreigemente” begroet.

“Behalwe toe hulle my ’n stuk van 40 mx40 m van my eie 120 ha aangebied het.”

Maserumule, met ’n doktorsgraad in wiskunde agter sy naam,is ’n uitvoerende direkteur van die WNNR. Hy besit die plaas saam met sake-vennote. Die eiendom, geregistreer as Akubra Trading 16 (Bpk.), is in 2007 gekoop en is bestem vir ’n behuisingsontwikkeling.

Luidens sy verklaring in die hofstukke is hy Maandag ingelig dat daar plakkers op die plaas is. Hy is dadelik soontoe, waar hy begroet is deur ’n sinkstruktuur met die woord “Office” daarop geverf.

Hulle het R500 gevra vir ’n “erf” en R50 vir “padgeld”.

“Ek het hulle my titelakte-papiere gewys. Hulle wou nie na my luister nie. Party het gesê hulle het nêrens anders om te bly nie, ander het gevra wat wil ek met al die grond doen. Een het selfs beweer dat sy voorgeslagte die grond besit het,” het Maserumule gesê.

Dr. Motodi Samuel Maserumule (voor, links) Vrydag in die hof. Langs hom sit ’n vriend, Diphete Bopape. Agter hulle wag Ian Cameron van AfriForum saam met stamhoof Letsiri Phaahla, ’n sakevennoot van Maserumule. Heel agter sit Marnus Kamfer, regs- en risikobestuurder van AfriForum, en Tarien Cooks, ook van AfriForum.Foto: Hanti Otto

In daardie stadium was daar net so 15 mense op die grond en geen strukture nie, behalwe vir die “kantoor”. Maserumule is dadelik na die Soshanguve-polisie, maar dié het geweier om ’n saak te open en hy is na die hof langsaan verwys.

Daar is Maserumule na die Tshwane-metropolisie verwys, wat hom teruggestuur het na die polisie.

Intussen het plakkers en bakkievragte boumateriaal na sy plaas gestroom.

Dinsdag het hy kontak gemaak net AfriForum, wat hom gehelp het om uiteindelik ’n klag by die polisie in te dien.

“Teen Donderdag het die polisie nog niks gedoen nie en die onwettige betreders het plante begin uitkap en strukture opgerig. Dit het duidelik geword dat my pogings om die probleem met die polisie se betrokkenheid op te los, onsuksesvol was,” sê Maserumule in sy hofstukke.

Hy het hom toe met AfriForum se hulp na die hof gewend.

Die “kantoor” wat deur besetters op dr. Motodi Samuel Maserumule se plaas noord van Pretoria opgerig is. Dié foto is as bewysstuk by die hooggeregshof in Pretoria ingedien.Foto: Verskaf
Besetters het strukture begin oprig op dr. Motodi Samuel Maserumule se plaas noord van Pretoria.Foto: Verskaf
’n Foto wat as bewysstuk by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is.Foto: Verskaf

Nadat die tussentydse bevel Vrydag toegestaan is, het hy gesê as die polisie net vroeër gereageer het, was geen van dié drastiese stappe nodig nie.

“Dit maak nie saak wat enige politikus sê nie. Vir die mense op grondvlak, die individu, die boer wie se lewensbestaan afhang van wat in ’n uur of ’n paar dae gebeur . . . die grond van mense wat dit wettig besit, moet beskerm word.

“Hierdie ding van grondonteiening sonder vergoeding het voorheen geen emosie in my wakker gemaak nie – tot Maandag, toe dit my eiendom is wat geraak word,” het Maserumule gesê.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het gesê weens die polisie se versuim om op te tree, moes die balju en die hof nou betrek word.

“Ons het die doktor gehelp, want dit gaan oor ’n eiendomskonsep. Mense is onder ’n wanindruk dat die grond-situasie ’n wit-swart-ding is. Hoe moet ’n eienaar sy grond beskerm as niemand daar is nie?

“Ons sal enigeen help, want grondbesetting is ’n bedreiging vir die hele land se ekonomie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.