Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Asseblief,’ soebat man voordat rowers hom doodskiet

“Asseblief,” het Johann Heunis sy aanvallers gesoebat.

Toe skiet hulle hom in die kop voor sy kinders en sy swanger vrou dood.

Heunis se weduwee, Mariandra, was Donderdag emosioneel terwyl sy oor die laaste oomblikke van haar man se lewe in die hooggeregshof in Pretoria getuig het.

johann heunis
Mariandra en Johann Heunis, wat in Oktober 2016 doodgeskiet is. Foto: Verskaf

Sy het vir die staat getuig in die verhoor van Justice Sethlangu (37).

Sethlangu staan nie net tereg op die moord van Johann nie, maar ook vir twee ander huisrooftogte.

Dié twee huisrooftogte was in dieselfde omgewing waar Heunis op 1 Oktober 2016 doodgeskiet is. Mariandra was in daardie stadium hoogswanger met die egpaar se vierde kind, André.

Volgens Mariandra het sy en Johann in ’n dubbelverdiepinghuis gewoon. Die aand van sy moord het hulle op die boonste verdieping in die sitkamer aan die slaap geraak.

Mariandra het twee keer wakker geword van die honde wat buite blaf. Die eerste keer het sy afgestap om seker te maak die deur en vensters is gesluit.

Die tweede keer het sy ’n geluid gehoor. Twee aanvallers, een met ’n vuurwapen in die hand, het oor haar getroon.

Haar gille het Johann wakker gemaak.

Die paartjie het herhaaldelik vir die aanvallers gesê daar is nie kontant nie en die ander waardevolle items uitgewys, het Mariandra getuig.

Sewe skote, wat die vierjarige Mieke nouliks gemis het, is geskiet.

“Ek het een van die skote gesien . . . wat hom (Johann) in die skouer getref het,” het Mariandra getuig, terwyl die trane oor haar wange begin rol het.

Justice Sethlangu
Justice Sethlangu (37), wat daarvan aangekla word dat hy een van die aanvallers was wat verantwoordelik is vir die skietdood van Johann Heunis in 2016. Foto: Isabel Venter

“Hy het sy skouer gegryp en van die bank afgeval.”

Daarna het die aanvallers hulle toegespits op Mariandra.

Mieke wou keer en het haar hand opgesteek.

Sy het vir die aanvallers gesê hulle kan maar haar spaarbussie se geld vat as hulle geld soek.

“Johann het ’n laaste keer opgestaan, twee treë vorentoe gegee en vir die rowers gesê ‘please’,” getuig Mariandra.

Toe skiet die gewapende aanvaller Johann in die kop.

Johann het ’n laaste keer opgestaan, twee treë vorentoe gegee en vir die rowers gesê ‘please’.

Die aanvaller het sy wapen teen Mariandra se kop gedruk en wou by haar weet waar haar ander kinders is.

“Ek het hulle gevra om te gaan. Hulle het omgedraai, die trappe afgegaan, die sleutel in die voordeur gekry, oopgesluit en geloop,” sê Mariandra.

Sy het hulp ontbied by ’n nabygeleë vulstasie.

Mariandra sal na verwagting Vrydag haar getuienis voortsit.

*Die staat het Donderdag weer vir ao. Tebogo Mabitsela geroep om te getuig oor Sethlangu se vingerafdrukke wat dramaties verander het sedert hy in hegtenis geneem is.

Mabitsela het vroeër getuig oor Sethlangu se regterduimafdruk wat hy gevind het in die huis van dr. Marti Koen. Haar huis was een van die twee waar die huisrooftogte, slegs maande voor die moord op Johann, was.

Mabitsela het ter stawing ’n nuwe afdruk van Sethlangu se regterduim geneem en getuig dit lyk nou asof die vel afgesny is.

Hy het Donderdag al Sethlangu se afdrukke geneem en vergelyk met dié wat geneem is met sy inhegtenisneming.

“Ek kan nou sonder twyfel sê die afdruk wat ek op die misdaadtoneel gekry het, behoort aan die verdagte voor die hof,” het Mabitsela getuig.

Meer oor:  Johann Heunis  |  Dood  |  Aanvallers  |  Rowers  |  Vrou  |  Kinders  |  Skiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.