Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Baaitjie-moord: ‘Dit was sameswering’

Indien ’n beskuldigde die blatante arrogansie het om in ’n ope hof die senior aanklaer te dreig, toon dit ook sy vermoë om vir eie gewin moord te pleeg.

Dit was Dinsdag die betoë van adv. Hannes Cloete in die hooggeregshof in Kimberley waar Zonizelo (Zet) Magawu, ’n gewese ANC-takvoorsitter, saam met Richard Hasane, Tshame Frank Baxane, Thompson Mncedisi Mphondomisa en Matthews Legodu, ’n senior ANC-lid in die streek, van die moord op Johannes Baaitjie, DA-raadslid van Daniëlskuil, en sy vennoot, Shuping Nouse, aangekla word.

Richard Hasane, Tshame Frank Baxane, Zonizelo (Zet) Magawu, ’n gewese ANC-takvoorsitter, Thompson Mncedisi Mphondomisa en Matthews Legodu, ’n senior lid van die ANC in die streek, word van die moord op Johannes Baaitjie, DA-raadslid van Da­niëlskuil, en sy vennoot, Shuping Nouse, aangekla. Foto: Charné Kemp

Baaitjie en Nouse is kort ná die verkiesing in Augustus 2016 doodgeskiet.

Baaitjie se lyk is op 17 Augustus 2016 langs die pad tussen Daniëlskuil en Postmasburg aangetref. Nouse het dae later in die hospitaal beswyk nadat hy op Postmasburg in Baaitjie se bakkie aangetref is.

Die moorde het groot opspraak verwek omdat die staat aanvoer dat kontrakte van R20 miljoen en die hoop op winsgewende munisipale tenders die beskuldigdes tot die moorde gedryf het.

Cloete het aangevoer die beskuldigdes se getuies was teenstrydig, in die geheel lamlendig en deurspek met en gegrond op leuens, vae afleidings, dreigemente en vergesogte versinsels. Dit moet in die geheel verwerp word. Hulle het almal saamgesweer om moord te pleeg.

Die geloofwaardige selfoon-getuienis van die kommunikasie tussen mekaar en hul ligging op en rondom die misdaadtonele bevestig die staatsgetuie se weergawe oor wat daardie aand gebeur het.

Matthews Legodu wat saam met vier ander van die moord op Johannes Baaitjie, DA-raadslid van Da­niëlskuil, en sy vennoot, Shuping Nouse, aangekla word, het glo die staatsaanklaer vanuit die getuiebank gedreig. Foto: Charné Kemp

Die beskuldigdes weerspreek mekaar in ’n poging om veral vir Magawu te beskerm. Hoewel hulle staatsgetuies kon roep om hul saak te bevorder, het hulle dit “vreemd genoeg” nie gedoen nie.

Van Magawu het Cloete gesê dat hy ’n “verbysterende mate van arrogansie” in die getuiebank getoon het. Benewens beskuldigings teenoor die aanklaer en die ondersoekbeampte, het hy later ook die intelligensiedienste van ’n komplot teen hom beskuldig. Hy kon nie moeilike vrae beantwoord nie, en het getuienis aangepas en lang toesprake gelewer.

Legodu, ’n sakeman wat tenders van die munisipaliteit gehad het, sou baie baat vind by Baaitjie se dood indien die munisipaliteit weer onder ANC-beheer kom.

“Hy het my openlik sonder skroom in die hof gedreig toe hy in ’n hoek geverf is en nie my vrae kon beantwoord nie. Dit is tekenend van iemand wat geen respek het vir ander nie en vir eie gewin sal moor,” het Cloete aangevoer.

Legodu het nooit ontken dat dit sy stem in ’n geheime opname met die staatsgetuie is nie. In die opname erken Legodu dat sy pistool gebruik is, dat hy die vermeende moordenaars op die misdaadtoneel gaan haal het, die ANC by die moord betrokke is, en hy vervoer vir hulle gereël en daarvoor betaal het.

Mphondomisa het nie geskroom om twee mense te skiet nie. Sy verskonings van diamanttransaksies wat skeefgeloop het om die staatsgetuie te weerlê, hou nie water nie. En selfs hy het nie Magawu se versinsel oor intelligensie-agente wat Magawu agtervolg het, bevestig nie.

In ’n poging om sy rol te verdoesel het Hasane selfs sy regsverteenwoordigers van leuens beskuldig. Hy was saam met die moordenaars in sy motor toe die moorde gepleeg is, het Cloete aangevoer.

In ’n poging om hom van die verdoemende selfoongetuienis te verwyder, het Baxane, wat die vervoer vir die moordenaars gereël het, die polisie valslik beskuldig dat hulle sy foon gesteel het.

Willie Els het namens Hasane in sy betoë versoek dat regter Pule Tlaletsi die ondersoekbeampte, kol. Dolf Lourens, en die staatsgetuie se getuienis verwerp.

Die verhoor is tot 3 Desember uitgestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.