Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Baaitjie-moord: Regsman lag toe beskuldigde sê hy knoei

Die staatsadvokaat in die opspraakwekkende moordverhoor van Johannes Baaitjie was Dinsdag verontwaardig, sprakeloos en het hardop gelag toe hy van knoeiery in die hooggeregshof in Kimberley beskuldig is.

xxxx
Zonizelo Magawu, gewese ANC-takvoorsitter.

Zonizelo Magawu, gewese ANC-takvoorsitter en vermeende baasbrein agter die moord op Baaitjie, het in kruisondervraging beweer óf adv. Hannes Cloete óf iemand anders het e-posse om ’n lasbrief vir selfoonstate te bekom en het die selfoonstate bewimpel.

Cloete het hom etlike kere gevra of hy seker is hy wil “sulke onverantwoordelike stellings” maak en getuies van sameswering beskuldig.

Magawu word saam met Richard Hasane, Tshame Frank Baxane, Thompson Mncedisi Mphondomisa en Matthews Legodu aangekla van die moord op Baaitjie, ’n DA-raadslid, en sy vennoot, Shuping Nouse, asook van ontvoering en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Baaitjie se lyk is op 18 Augustus 2016 met ’n skietwond in die kop langs die pad naby Postmasburg gekry. Die gewonde Nouse is dae later op 23 Augustus aan sy beserings dood.

Die staat voer aan dat die beskuldigdes ná 2016 se munisipale verkiesing meer winsgewende tenders van ’n ANC-beheerde raad wou kry, en dat Baaitjie uit die weg geruim moes word.

Vroeër in die verhoor het lt.kol. Dolf Lourens, ondersoekbeampte, oor sy eerste leidraad getuig – die selfoonboodskap wat die vermeende moordenaar aan Baaitjie gestuur het om hom met ’n beloofde plaveiselkontrak na Postmasburg te lok.

Lourens het op 18 Augustus met behulp van ’n lasbrief inligting van die selfoondiensverskaffer oor die afsender se selfoonnommer gekry. Die betrokke selfoonnommer is met ’n Nokia N70-handstuk gebruik. Twee ander selfoonnommers, waarvan een aan Magawu behoort het, is ook met dié foon gebruik.

Cloete het hardop gelag toe Magawu getuig het dat hy (Cloete) vervaard rondgehardloop het oor ’n e-pos van die polisie “wat julle nie gedink het ek sal ontdek nie”.

Cloete het dit aan hom gestel dat die staat die e-pos aan Magawu verskaf het, en dat hy nie ’n e-pos sal vervals om sy eie saak te belemmer nie.

Die gewraakte simkaart is die dag van die moord in ’n winkel in Daniëlskuil gekoop. Die staat het vroeër ’n video in die hof vertoon waarin Magawu iets by die winkel koop. Magawu beweer hy het ’n geheuekaart, en nie ’n simkaart nie, gekoop. Hy kon nie verduidelik hoekom sy regsverteenwoordiger nie getuienis oor die koop van ’n simkaart, wat kritieke getuienis teen hom is, betwis het of vrae oor ’n geheuekaart gestel het nie.

Cloete het Magawu daarvan beskuldig hy hoop slegs dat die hof sy hoofgetuienis sal aanvaar.

Cloete het op ’n tydstip gesê hy gaan nie ’n verduideliking vra nie, want hy het “geleer hy gaan ’n uitgerekte antwoord kry”, waarop Magawu “geen kommentaar nie” geantwoord het. Cloete het gesê dit is sy sinvolste antwoord vir die dag.

Magawu beweer sy selfone het voor die moord weggeraak of is gesteel. Hy dra geen kennis van boodskappe of oproepe wat met die betrokke foon met verskillende simkaarte gemaak is nie.

Die verhoor voor regter Pule Tlaletsi duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.