Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Baaitjie-moord: Takvoorsitter kry weer nie borgtog

Zonizelo Magawu, gewese ANC-takvoorsitter van Daniëlskuil wat saam met vier ander van die moord op Johannes Baaitjie, DA-raadslid, aangekla word, se soveelste borgtogaansoek het Dinsdag in Kimberley misluk.

Richard Magawu, een van die vyf beskuldigdes wat van die moord op Johannes Baaitjie in 2016 in Postmasburg aangekla word, sit langs advv. Hannes Cloete en Keageletsi Ilanga, staatsaanklaers. Foto: Charné Kemp

Magawu het gemaklik gelyk waar hy aanvanklik langs die staatsaanklaers in die stoel waar regsverteenwoordigers gewoonlik plaasneem, gesit het.

Hy het homself verteenwoordig.

Hy kon egter nie te lank sit nie, want sy aansoek is binne minute deur waarnemende regter Willem Coetzee afgewys.

Hy is kort daarna terug na die selle begelei.

Baaitjie en Jeffrey “Shuping” Nouse, sy vennoot, is kort ná die verkiesing in Augustus 2016 doodgeskiet.

Baaitjie se lyk is op 17 Augustus tussen Daniëlskuil en Postmasburg langs die pad gevind. Nouse het dae later in die hospitaal beswyk nadat hy in Baaitjie se bakkie in Postmasburg gevind is.

Dié voorval het opspraak verwek omdat Magawu, ’n gewese ANC-takvoorsitter, een van die vyf beskuldigdes is.

Die ander is Richard Hasane, Tshame Frank Baxane, Thompson Mncedisi Mphondomisa en Matthews Legodu. Hulle word benewens die twee aanklagte van moord ook van ontvoering en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie aangekla.

Coetzee het bevind Magawu kon geen dwingende en wesenlike omstandighede bewys wat borgtog sal regverdig nie.

Magawu se borgtogaansoeke is op 23 September en 12 Desember 2016 deur die landdros in Postmasburg afgewys. Sy appèl teen dié beslissings het misluk.

Nog ’n borgtogaansoek in die voorverhoor in November 2017 het misluk.

Die ander is Richard Hasane, Tshame Frank Baxane, Thompson Mncedisi Mphondomisa en Matthews Legodu.

Magawu kon in sy jongste aansoek geen nuwe feite na vore bring wat nie ten tyde van die ander borgtogaansoeke bekend was of wat agterna aan die lig gekom het nie.

Magawu het ook in sy aansoek aangevoer dat sy oudste kind ’n dwelmverslaafde is en dat sy vrou en gesin sy ondersteuning nodig het. Hy het ook twee jong kinders wat vaderlike leiding benodig.

Hy moet ingevolge tradisionele gebruik die begrafnis van ’n niggie, vir wie hy gesorg het, bywoon.

Magawu voer aan dat sommige handtekeninge op die petisie wat destyds by die landdroshof in sy borgtogaansoek teen hom gebruik is, vervals is.

Omdat die nuwe borgtogaansoek nie ’n appèlaansoek is nie, moet die regter die landdros se bevindings aanvaar.

Die verhoor is tot 24 April uitgestel.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Johannes Baaitjie  |  Daniëlskuil  |  Borgtogaansoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.