Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Baaitjie-moord: Verdagte op band opgeneem, hoor hof

’n Beskuldigde in die moordsaak van Johannes Baaitjie, ’n DA-kandidaat van Daniëlskuil, was in ’n geheime bandopname vol selfvertroue daar is geen bewyse teen Zonizelo Magawu, destydse ANC-takvoorsitter, nie.

Boonop het “die organisasie, die ANC in Upington” twee sluipmoordenaars uit Gauteng gereël om Baaitjie te vermoor.

Die beskuldigdes wat van die moorde op Johannes Baaitjie en Shuping Nouse aangekla word, is van links Richard Hasane, Tshame Frank Baxane, Zonizelo Richard Magawu, ANC-kandidaat en takvoorsitter, Thompson Mncedisi Mphondomisa en Matthews Legodu. Foto: Charné Kemp

Dit was Donderdag die opspraakwekkende getuienis van Tiro Legothlo, ’n art. 204-staatsgetuie, in die hooggeregshof in Kimberley.

Magawu, Richard Ha­sane, Tshame Frank Baxane, Thompson Mncedisi Mphondomisa en Matthews Legodu word van die moord op Baaitjie en Shuping Nouse, sy sakevennoot, asook ontvoering en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, aangekla.

Baaitjie se lyk is op 18 Augustus 2016 met ’n skietwond in sy kop langs die pad naby Postmasburg gekry. Sy gewonde vennoot, Nouse, is dae later op 23 Augustus aan sy beserings dood. Hulle is dieselfde aand op twee verskillende plekke geskiet.

Die staat voer aan dat die beskuldigdes ná 2016 se munisipale verkiesing meer winsgewende tenders van ’n ANC-beheerde raad wou kry, maar dat Baaitjie eers uit die weggeruim moes word. Baaitjie is op 17 Augustus glo met die belofte van ’n plaveiselkontrak na Postmasburg – en sy dood – gelok.

Legothlo, wat in Kuruman bly, is glo voor die voorval deur Mphondomisa gekontak en R20 000 beloof om “sekere mense” van Daniëlskuil na Postmasburg te vervoer.

Die persone het glo “ ’n deal” met ’n DA-man gehad.

Legothlo, wat op albei misdaadtonele was, het getuig hoe hy later ingestem het om met die polisie saam te werk. Hy moes die beskuldigdes met ’n versteekte toestel opneem en oor die moordwapen en die betaling vir die moord uitvra.

Legothlo het Woensdag getuig dat Magawu die betrokke aand aan hom gesê het hy gaan nie saam na Postmasburg nie, want die 'top dogs' het gesê hy sal die eerste verdagte wees.

Legothlo het op 3 September by Mphondomisa se huis in Daniëlskuil opgedaag en gevra waar die beloofde R20 000 is. Mphondomisa het gesê hy moet Legodu vra.

Legothlo het in sy motor alleen vir Legodu oor die uitstaande betaling uitgevra. Die gesprek is opgeneem. Legodu het gesê hy wil nie selfone vir banktransaksies gebruik nie omdat daar dalk meeluistering is. Hy het ook te veel skuld en ’n oortrokke bankrekening. Hy kon die kontantbetaling eers ná 8 September doen. Legothlo moet hom bel en in kodetaal praat deur voor te gee hy gaan beeste van R20 000 aan Legodu verkoop.

Legodu het verduidelik dat die moord op Baaitjie lank gelede deur “die organisasie, die ANC van Upington”, beplan is. Twee sluipmoordenaars sou van Gauteng kom, maar hulle het gesloer. Mphondomisa het glo die moord met Legodu se 9 mm-pistool gepleeg. Ná die daad het hulle verskillende vuurwapens se onderdele omgeruil om dit onopspoorbaar te maak.

Legodu het gesê Mphondomisa is ’n “sh*t” wat al “big jobs” in Gauteng gedoen het.

Magawu, wat toe reeds in hegtenis was, het ter sprake gekom. Legodu het gesê Magawu sal op 22 September met sy borgtogaansoek vrygelaat word omdat daar geen bewyse teen hom is nie.

Legothlo het Woensdag getuig dat Magawu die betrokke aand aan hom gesê het hy gaan nie saam na Postmasburg nie, want die “top dogs” het gesê hy sal die eerste verdagte wees.

Legodu het in die geheime opname ook erken hy het Mphondomisa en Baxane op Baaitjie se moordtoneel gaan haal nadat Legothlo en Hasane weggejaag het.

Die verhoor voor regterpresident Pule Tlaletsi duur voort.

Meer oor:  Johannes Baaitjie  |  Daniëlskuil  |  Moordverhoor  |  Getuienis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.