Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Baba ontvoer: Polisie op spoor van nog 2 mans

Die ondersoekbeampte in die ontvoeringsaak van baba Kwahlelwa Tiwane is op die spoor van minstens nog twee mans wat glo by die ontvoering betrokke is.

Sers. Solomzi Nguda van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings (GKS) in Khayelitsha het, getuig in die borgtogaansoek van Karabo Tau (18) en gesê ’n tweede verdagte sal teen die naweek agter tralies wees.

Karabo Tau (18).Foto: Facebook

Tau, ’n matriekleerling aan die Claremont High School in Kaapstad, is verlede Vrydag deur die polisie vir ondervraging ingeneem. Dié meisie van Guguletu was nog in haar skoolklere geklee.

Een van die gesoekte mans woon glo in Parow, waar Tau met die babaseuntjie verdwyn het. Sy het glo ook die man se naam in haar waarskuwingsverklaring genoem.

Volgens Nguda se getuienis het sy in haar verklaring geskryf die man het haar gedreig, maar hy het nie oor die aard van die dreigement uitgebrei nie.

Nguda het getuig ’n tweede verdagte sal teen die naweek agter tralies wees. Hy het gesê hy het verlede week, kort ná die babaseuntjie se ontvoering, opdrag gekry om by die ondersoek aan te sluit en het die ondersoekdossier Woensdag amptelik oorgeneem.

“Ek het slapelose nagte sedert ek betrokke geraak het,” sê hy.

Nguda het getuig dat hy borgtog teenstaan en bygevoeg die gemeenskap se vertroue in die polisie sal geskaad wees as Tau op borgtog vrygelaat word. Dit sal ook nie in belang van geregtigheid wees om haar vry te laat nie.

“Ons weet nie of die baba nog lewe of waar hy is nie,” het Nguda getuig en gesê sy eerste prioriteit is om die baba vir sy ouers terug te kry.

Hy meen verder dit is moontlik dat Tau kan inmeng by die ondersoek, wat volgens hom nog in ’n vroeë stadium is, as sy op borgtog vrygelaat word.

Nguda het getuig Tau het in haar eie handskrif in haar waarskuwingsverklaring geskryf dat sy die babaseuntjie, een van ’n tweeling, gevat het.

Die tiener het Donderdagmiddag kort voor haar verskyning in die hof senuagtig gelyk waar sy op die vloer gesit het by die trappe wat van die hofselle na die hofsaal lei. Sy het haar hande en gewrigte teen mekaar geklap.

By haar voete was ’n plastieksakkie met vermoedelik van haar persoonlike besittings.

Karabo Tau (18), wat Donderdag in die landdroshof in Bellville verskyn het. Foto: Verskaf

Sy is 18 jaar oud, maar lyk jonger. Haar vlegsels is in ’n poniestert vasgemaak.

Intussen sê Xolisa Ngwekazi, ’n wyksraadslid in Khayelitsha, Kwahlelwa se ouers sukkel om die gebeure te verwerk.

“Hulle is bekommerd dat hulle nooit weer hul babaseuntjie sal sien nie. Die ouers is bang en weet nie hoe om hul baba terug te kry nie,” sê hy.

Ngwekazi sê hy het gepraat met die erg getraumatiseerde ouers van die vermiste baba, asook ander mense in die gebied wat deur die verdagte genader is.

Volgens inwoners het die verdagte werklose mense gesoek aan wie sy kospakkies en ’n R1 000-koopbewys wou gee.

“Sy het hul identiteitsdokumente gevat en gekopieer. Die ontvoerde baba se ma was een van die slagoffers en het verlede Woensdag saam met die vrou na haar “kantore” in Parow gegaan waar sy saam met Kwahlelwa verdwyn het.

“Sy het hulle glo in ’n winkel gelos en gesê hulle moet solank kos bestel terwyl sy êrens afskrifte gaan maak. Sy het met Kwahlelwa verdwyn en nooit weer teruggekom nie.”

Hy het ’n beroep op inwoners gedoen om nie hul persoonlike besonderhede goedsmoeds vir mense te gee nie.

Kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, het verlede week gesê die vrou na wie hulle gesoek het, het haarself glo as ’n maatskaplike werker voorgedoen. Vroeëre inligting van die polisie het daarop gedui dat die vrou die volgende dag teruggekom en die ma en haar kinders in ’n taxi na Parow vergesel het, waar sy gesê het haar werk is, maar dat sy hier met die baba verdwyn het.

Mense met inligting oor waar baba Kwahlelwa is, word gevra om sers. Joy Sumsodien by 082 522 1095 te kontak.

Die borgtogaansoek gaan voort.

* Die Claremont High School het by navraag gesê hy het geen kommentaar nie en het alle navrae na die Wes-Kaapse onderwysdepartement verwys.

Meer oor:  Kwahlelwa Tiwane  |  Inhegtenisname  |  Baba  |  Ontvoering  |  Verdagte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.