Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Baba-saak teen matrikulant weens beurtkrag uitgestel

Die aansoek om borgtog van Karabo Tau (18), die matriekleerling wat daarvan aangekla word dat sy ’n baba ontvoer het, is Dinsdag weens ’n ontwrigting deur beurtkrag uitgestel.

Die verhoor is kort ná 14:00 in die landdroshof in Bellville tot Donderdag 6 Februarie uitstel omdat ander sake wat tydens die kragonderbreking van meer as ’n uur lank verhoor moes word, voorkeur moes kry.

Karabo Tau met haar verskyning verlede week in die landdroshof in Bellville. Foto: Maygene de Wee

Geen beurtkrag word glo op Donderdag voorsien nie.

Tau, wat ’n leerling van die Hoërskool Claremont in Kaapstad is, word daarvan beskuldig dat sy die twee maande oue Kwahlelwa Tiwane op 16 Januarie ontvoer het. Die baba word steeds vermis.

Tau is op 17 Januarie in hegtenis geneem en word sedertdien in die vroueafdeling in die Pollsmoor-gevangenis buite Tokai aangehou.

Tau het vir haar familie en skoolvriende geglimlag toe sy die beskuldigdebank verlaat het.

’n Skoolvriendin het begin huil toe die saak weer uitgestel is. ’n Familielid het vir haar ’n soentjie geblaas en gefluister dat alles oukei gaan wees.

Asanda Tiwane, die seuntjie se ma, het verlede week getuig dat Tau van deur tot deur geloop het en haar as ’n maatskaplike werker voorgestel het. Sy het glo gesê haar naam is Monica en dat sy werklose mense soek wat sy met koepons en kospakkies van R1 000 kan help.

Tiwane het getuig dat sy Tau op 10 Januarie ontmoet het, waarna sy nog drie keer opgedaag het by haar huis waar sy met haar tweelingseuns, hul pa en hul ouer boetie woon. Die Donderdag toe haar tweelingseuntjie na bewering ontvoer is, was glo die vierde keer dat Tau by haar huis was.

Volgens Tiwane is sy dié dag saam met Tau en haar tweeling met ’n taxi van Site C se taxistaanplek na Parow. Naby die poskantoor het hulle by stalletjies uitgeklim, en Tau gesê hulle moet uitkyk vir iets om te drink. Tau het gesê sy wil gou poskantoor toe gaan om afskrifte te laat maak. Sy het Kwahlelwa glo by haar gehad.

Tiwane het naby die poskantoor gewag, maar Tau het volgens haar nooit met haar kind teruggekeer nie. Toe sy besef dat Tau vermoedelik met die kind weg is, is sy per taxi terug na Khayelitsha.

Sy het Tau glo aanhoudend op haar selfoon probeer bel, maar dit het onbeantwoord gebly. ’n Saak is in die polisiekantoor in Harare aanhangig gemaak.

Tau se regsverteenwoordiger het dit egter in kruisondervraging aan Tiwane en die ondersoekbeampte, sers. Solomzi Nguda, gestel dat Tau die dag van die ontvoering by die skool was en dat kringtelevisiemateriaal sal wys dat sy die skool eers om 15:10 verlaat het. Hy het verlede Donderdag ’n CD met die kringtelevisiemateriaal as bewysstuk by die hof ingedien.

Hy het dit ook aan hulle gestel dat haar Xhosa-onderwyser aan ’n ander polisiebeampte, wat deel van die ondersoek is, bevestig het dat Tau op dié dag tot 15:00 in die Xhosa-klas was. Die onderwyser het glo ook ’n brief ter bevestiging aan Tau se regspan gegee.

Die verdediging sou Dinsdag begin om die getuienis te lei van Tau se ma en nog twee mense wat glo kan bevestig waar sy haar gedurende die ontvoering bevind het.

Die saak teen Tau se medebeskuldigde, Ely Kibunda (22), haar gewese kêrel, is tot 12 Februarie vir ’n aansoek om borgtog uitgestel.

Meer oor:  Karabo Tau  |  Beurtkrag  |  Matrikulant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.