Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Babaontvoering: Pa verlig dat saak teen seun teruggetrek is

Die pa van ’n 22-jarige Kongolese man, wat in verband met die ontvoering van die twee maande oue Kwahlelwa Tiwane in hegtenis geneem is, sê hy is verlig dat die saak teen sy seun teruggetrek is.

Ely Kibunda het Woensdag in die landdroshof in Bellville op aanklag van ontvoering verskyn waar hy ’n borgtogaansoek sou bring.

Die staat het Kibunda daarvan beskuldig dat hy en Karabo Tau, ’n 18-jarige matriekleerling van Gugulethu, Kwahlelwa in Januarie ontvoer het.

Ely Kibunda
Die saak teen Ely Kibunda is Woensdag voorlopig in die landdroshof in Bellville teruggetrek. Foto: Maygene de Wee

Tau het glo die baba op 16 Januarie by sy ma, Asanda Tiwane, gesteel en die seuntjie toe na bewering aan Kibunda gegee.

Die staat het gesê dat hy die saak hangende verdere ondersoek voorlopig gaan terugtrek.

Leon Fieties, Kibunda se regsverteenwoordiger, het buite die hof gesê hulle is bly oor die besluit van die hof. Hy sê hulle gaan dit beslis oorweeg om die polisie te dagvaar.

“Daar is blatant, sonder dat hulle (die polisie) enigsins aan die gevolge gedink het, op Ely se regte getrap. Sy regte is vertrap,” sê Fieties.

Kwahlelwa Tiwane
Die baba Kwahlelwa Tiwane. Foto: SAPD

Romain Kibunda, Kibunda se pa, het buite die hof beweer dat die polisie sy seun gemartel het in ’n poging om hom te kry om te erken dat hy by die beweerde ontvoering betrokke is.

Hy sê dat sy kind nie eens werklik vir Tau goed ken nie. Hulle het op sosiale media ontmoet. Sy seun is ’n musikant en Tau was een van sy volgelinge.

Op Facebook is Kibunda onder die naam Nelly Lucas bekend.

Fieties het beweer dat Tau ’n aanlyn verhouding gehad het en dit aanlyn verbreek het.

“Die twee het mekaar eers daarna iewers in ’n winkelsentrum ontmoet,” sê Fieties.

Fieties sê dat Tau nie vir Kibunda by die beweerde ontvoering betrek het nie.

“Die polisie wou by haar weet of sy mense in Parow ken. Sy het ja gesê en Ely se naam genoem, maar hom by die naam Nelly Lucas genoem en dis toe dat hulle besluit het my kliënt is betrokke.”

Kibunda se pa het ook gesê dat die polisie die dag dat hulle sy seun in hegtenis geneem het na Nelly Lucas gesoek het. Hulle het vir hom ’n foto van sy seun op sy Facebookblad gewys.

Volgens hom het sy seun onmiddellik sy selfoon en wagwoord vir hulle gegee toe hulle dit gevra het. Hulle het sy seun na die Parow-polisiekantoor geneem waar hy glo vier dae lank ondervra is. Die polisie het sy ouers na bewering eers later toegelaat om ’n regsverteenwoordiger vir hom te kry en om hom te sien.

Romain sê toe hy die eerste keer by die Parow-polisiekantoor oor sy seun navraag doen, is daar vir hom gesê dat sy seun vir verkragting gesoek word. Dis eers nadat Fieties hom besoek het dat daar gesê is dat hy vir ontvoering gesoek word.

Kibunda was tot sy hofverskyning Woensdag reeds 12 dae in aanhouding.

Tau verskyn weer Woensdagmiddag in die hof vir haar borgtogaansoek om voort te gaan.

Meer oor:  Ely Kibunda  |  Belville  |  Kaapstad  |  Misdaad  |  Kwahlelwa Tiwane  |  Hof  |  Babaontvoering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.