Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Bakili het hom geruïneer, sê Siemens net voor moord
Louis Siemens (links) en Stanley Bakili in die restaurant kort voor die moord. Dié toneel is op die video wat Maandag op ’n skerm in die hooggeregshof in Bloemfontein gewys is. Foto: Mike van Rooyen

Hy is nie bang om tronk toe te gaan nie, het Louis Siemens (54) gesê sowat 15 minute voordat hy voor die loop van ’n pistool in die hande van ’n huurmoordenaar in die kelderverdieping van die Prellerplein-winkelsentrum in Bloemfontein dood is.

“Stanley, as ek moet tronk toe gaan, of wat ook al, ek is nie bang nie. Ek sal hierdie ding hanteer,” het Siemens se stem opgeklink uit ’n opname wat hy self gemaak het van ’n gesprek wat hy en Stanley Bakili, vermeende baasbrein van die moord, in ’n restaurant in die sentrum gehad het.

Luidens vroeëre getuienis het die skieter, Botha Mbebethu, en sy vermeende makker, Jali Molosi, al in daardie stadium in die restaurant gaan kyk om hul slagoffer uit te ken voordat hulle hom by die hysbak in die kelderverdieping gaan inwag het.

Laat ons dit net afhandel, dan gaan elkeen in sy eie rigting.

Dié gesprek en ander wat Siemens op 10 Mei 2018 voor sy dood opgeneem het, is Maandag voorgespeel as deel van ao. Karin Jacobs se getuienis in die verhoor waarin Bakili en sy sewe vermeende makkers in verband met die moord op Siemens verskyn.

Sy het ook voor regter Pitso Molitoane beeldmateriaal van ’n geslotekringtelevisiekamera in die restaurant vertoon wat wys hoe Siemens, in lewe besturende direkteur van die CitiMed-daghospitaal in die sentrum, en Bakili by ’n tafel sit.

Die staat beweer Bakili het Siemens sedert einde 2015 afgepers en só R6,5 miljoen uit hom gekry met die belofte om as middelman vir hom nog lisensies te kry om die daghospitaal uit te brei.

Die vermoorde Louis Siemens.

Kort voor die einde van die gesprek die middag in die Country Kitchen-restaurant sê Siemens aan Bakili: “Ek wil geen verdere kontak met jou hê nie. Jy het my ernstige skade berokken. Hierdie mense het gesê hulle gaan my fire. Wat gaan ek doen? Ek is ’n ou man. Hierdie was my hospitaal. Volgende week, die 17de, gaan hulle my ontslaan. So, moenie naby my kom nie.”

Bakili sê hy het aan ’n ondersoeker van die Valke gesê hy is onskuldig. Hy het die geld by Siemens geleen. Dit is nie geldwassery nie.

“Ntate, ons is in hierdie saak. Laat ons dit net afhandel, dan gaan elkeen in sy eie rigting.”

Aan die einde van die gesprek probeer Bakili weer geld van Siemens kry.

Siemens: “Ek het niks, niks, niks. Ek moes die water (twee botteltjies wat hulle in die restaurant gedrink het) met my kredietkaart betaal.”

Sowat agt minute later het die skote geklap, het Jacobs getuig.

Daardie man het my groot skade aangerig. Hy het my geldelik geruïneer. Miljoene. Hy het vir my gelieg en ek word nou op hoë vlak ondersoek.
Stanley Bakili

In ’n opgeneemde selfoongesprek vroeër die middag sê Siemens aan Lindiwe Radebe, gewese lewensmaat van Bakili: “Daardie man het my groot skade aangerig. Hy het my geldelik geruïneer. Miljoene. Hy het vir my gelieg en ek word nou op hoë vlak ondersoek. Hy het vir my net ellende gebring. Hy gebruik die feit dat ek ’n openbare figuur is teen my. Ek is keelvol vir sy stories en sy gelieg. Ek wil hom uit my lewe kry. Ek wil nooit weer met hom praat nie.”

Hy sê: “Ek het alles wat ek het, verloor. Nou word ek ondersoek. Hy het my hierin betrek. Ek het aandele verkoop. Ek wil nie eens vir jou sê wat ek alles vir hom gedoen het nie. En ek het niks daarvoor gekry nie. Ná ’n jaar weet ek hierdie goed nou. Maar ek het dit nie tevore geweet nie. Maar nou is dit te laat.”

Adv. Johan de Nysschen kla aan.

Die verhoor duur voort.

Meer oor:  Stanley Bakili  |  Louis Siemens  |  Bloemfontein  |  Huurmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.