Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Band op Lanseria ‘sluk sy arm in’

’n Kleuter kry sielkundige behandeling nadat ’n voerbandmeganisme by Lanseria se internasionale lughawe sy arm “ingesluk” en dit op drie plekke gebreek het.

Bryn en Samantha-Jane Jupp, Cole (2) se ouers. Foto: Facebook

Cole Jupp (2) het op 9 Februarie seergekry toe hy by ’n Kulula-inweegtoonbank sy hand in ’n gaping langs die bagasievoerband ingedruk het.

Die Jupp-gesin sou Kaapstad toe vlieg, maar Cole is reguit hospitaal toe.

Die seuntjie se pa, Bryn Jupp (36), het Lanseria en Comair Beperk, wat die Kulula-handelsmerk besit, nou gedagvaar vir R3,6 miljoen.

Cheri Rudd van Pretoria, Jupp se prokureur, sê die gesin sou op 9 Februarie vlieg. Hulle het hul bagasie op die voerband by ’n inweegtoonbank gelaai.

Die rooi kring toon die posisie van die voerband. Die pa beweer daar was ’n gaping regs van die voerband toe die kind sy hand daarin gedruk en die meganisme onder die voerband sy arm ingetrek het.

Rudd sê daar was daardie dag ’n gaping aan die regterkant van die voerband van tussen 30 en 40 cm.

Die seuntjie, wat langs die voerband gestaan het, het sy hand in die gaping gedruk.

Die meganisme onder die voerband het die kind se arm “ingetrek”.

Cole se ma het aan hom getrek om sy arm daar uit te kry.

Hulle het toe gesien die kind se arm is gebreek en het die vlug gekanselleer.

Cole Jupp Foto: Facebook

Rudd sê die seuntjie kon twee dae later weer sy vingers begin beweeg. Hy kan nou weer sy arm oplig en beweeg.

Sy sê Cole kry sielkundige behandeling.

Jupp, ’n entrepreneur van Randburg, sê in hofstukke die bagasie-hanteringstelsels behoort herstel en goed in stand gehou te word. Dit moet veilig gebruik kan word.

Volgens sy hofstukke is daar ’n sorgplig op Lanseria en Comair om alle redelike voorsorgmaatreëls te tref om beserings by passasiers te keer wat die lughawe gebruik.

Daar moet konstante en toegewyde toesighouding oor die bagasiestelsel deur die personeel wees.

Die stelsel moes nie ’n gevaar vir die kind ingehou het nie, lui sy hofstukke.

Die personeel het nie toegesien dat die plastiek-veiligheidsbedekkings by die voerband enigsins aangebring was, of behoorlik aangebring was nie.

Die kind het volgens ’n doktersverslag ’n fraktuur in die boarm en twee in die onderarm opgedoen.

Die pa eis R100 000 vir Cole se mediese en hospitaaluitgawes wat hy betaal het.

Hy eis nog R3,5 miljoen vir toekomstige mediese uitgawes, Cole se toekomstige verlies aan inkomste en verdienvermoë wanneer hy ’n volwassene is, en die seuntjie se pyn en lyding.

Rudd sê Jupp het ’n paar dae ná die voorval ’n foto van die voerband gaan neem. Daar was toe nie ’n gaping aan die regterkant van die voerband nie. Op dié manier sou ’n kind nie sy hand regs van die band kon indruk nie.

’n Dokter van die Mediclinic Sandton het in ’n verslag gesê die ouers het die seuntjie na haar gebring nadat sy arm “in ’n voerband vasgehaak het”.

Sy beseerde arm is in ’n stut gesit en hy is na ’n ortopediese chirurg verwys. Die seuntjie sou vir ’n tyd lank nie kon vlieg nie, weens die risiko van swelling.

Kathleen Ireland, regsadviseur van Comair, sê dit spyt Comair dat die kind beseer is.

Sy sê hulle kan egter nie nou oor die saak kommentaar lewer terwyl ’n ondersoek oor die omstandighede van die voorval gedoen word nie.

Carel le Roux, prokureur namens Lanseria, sê sy kliënt is bewus van ’n voorval daardie dag by die Kulula-inweegtoonbank.

Die voorval is by Lanseria se versekeringsonderskrywer aangemeld, wat verdere stappe sal doen, sê hy.

“Ons kliënt kan nie in dié stadium reageer op die details in die dagvaarding nie, want die saak word ondersoek.”

Hy sê Lanseria se saak sal in die regsproses gestel word.

Meer oor:  Cole Jupp  |  Fratsongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.