Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Bank ‘vat’ toe hul app-idee

Thandile Jwambi en Tatolo Kutumane het in 2015 geglo hul drome word bewaarheid toe hulle R20 000 in ’n kompetisie gewen het vir hul uitvinding waarmee gebruikers hul bankkaarte met ’n banktoepassing (app) kan bevries en weer ontvries.

Tatolo Kutumane en Thandile Jwambi word deur Philip Marais, die uitvoerende hoof van LaunchLab, gelukgewens toe hulle die eerste plek uit 200 inskrywings vir hul uitvinding losgeslaan het.

Vier jaar later is dié twee entrepreneurs in ’n hofstryd met Nedbank gewikkel om hulle te vergoed vir hul uitvinding, wat die bank glo sonder hul goedkeuring in gebruik geneem het.

“Ons het ons bes gedoen om met Nedbank saam te werk om ons meganisme tot voordeel van bankkliënte te implementeer, maar die bank het dit bloot gesteel en aangewend asof hy dit self ontwikkel het,” beweer Jwambi.

Volgens Jwambi het hy en Kutumane met die idee vorendag gekom nadat albei hul oumas ’n paar jaar gelede geld verloor het nadat hul bankkaarte gesteel is.

“My ouma kon nie die transaksies keer toe skelms geld uit haar bankrekening onttrek het nie. Sy het nie lugtyd gehad om die bank- oproepsentrum te bel om die transaksies te stop nie,” sê Jwambi.

‘Prokureurs was gretig om te help totdat hulle vasgestel het dat ons ’n bank takel.’

Hy en Kutumane het toe koppe bymekaar gesit om die probleem te takel. Hul oplossing was 'n bank-app wat hulle Instablock genoem het. Dit kan op selfone met basiese funksies, slimfone of rekenaars gebruik word om bankkaarte te bevries en te ontvries. Gebruikers het ook nie lugtyd nodig om dit te kan doen nie.

“Ons was baie ingenome met ons uitvindsel, maar ons het nie enige kontakte gehad om dit aan die wêreld bekend te stel nie. Ons is nie middelklasmense met sosiale netwerke nie en ons moet met min oor die weg kom.”

Jwambi sê hulle het in 2015 ’n advertensie vir My Business Expo gesien en ingeskryf in ’n poging om blootstelling te kry. Dit is ’n kompetisie waarin jong entrepreneurs idees vir nuwe produkte kan bekend stel.

Nedbank was een van die borge en werknemers van die bank het as beoordelaars opgetree.

Jwambi en Kutumane sê in hofstukke hulle het ’n aanvanklike aanbieding van hul produk gedoen en is agterna deur Dave Schickerling, ’n Nedbank-werknemer, genader om meer detail oor hul produk te verskaf.

Hulle het in daardie stadium reeds ’n voorlopige patent vir hul produk gehad. Nou eis hulle vergoeding van Nedbank vir die beweerde skending van hul patentreg. Hulle reken dit kan miljoene rande beloop.

“Jwambi en Kutumane het al die inligting wat versoek is aan Schickerling gegee nadat hy hulle verseker het dat Nedbank ’n kommer­siële reëling met hulle sal aangaan om die regte vir die gebruik van hul uitvinding te bekom,” lui die hofstukke.

Jwambi sê aan Rapport Schickerling het beloof om hulle te kontak om ’n lisensie-ooreenkoms op te stel, maar nooit daarna met hulle kontak gemaak nie.

Hulle het in Oktober 2015 weer ingeskryf vir die LaunchLab-kompetisie, waarvan Nedbank ook ’n borg is. Hulle het dié kompetisie vir jong entrepreneurs se nuwe produkte gewen en prysgeld van R20 000 ontvang.

Volgens hul hofstukke het Waseem Hassim, ’n Nedbank-direksielid, hulle toe genader.

Hy het vir hulle gesê hy het ’n mandaat van Nedbank om nuwe talent en idees vir die bank op te spoor en het vir hulle werk aangebied. Hulle het die werk van die hand gewys, lui die hofstukke.

Jwambi sê hulle het hul uitvinding daarna op aandrang van Hassim volledig openbaar gemaak nadat hy vir hulle gesê het hy wil hul idee met sy hoofkantoor in Johannesburg deel. Hulle het nooit daarna iets van hom gehoor nie.

Jwambi sê Kutumane het ’n paar maande later ’n Nedbank-kitsbank besoek en besef Nedbank het toe reeds ’n produk begin gebruik wat gegrond is op die presiese werking van hul uitvinding.

Jwambi sê hulle het toe verskeie regsfirmas om hulp genader.

“Prokureurs was gretig om te help totdat hulle vasgestel het dat ons ’n bank takel. Hulle het reguit gesê hulle sien nie kans vir so ’n saak teen ’n groot bank nie.”

Uiteindelik het hulle by die South African Litigation Funding Company uitgekom, wat wel kans gesien het vir die saak, sê hy.

“Ons glo Nedbank tree onwettig op. Hulle het ons verlei om ons uitvindings by kompetisies waarby hulle betrokke is bekend te maak deur die indruk te skep dat hulle ons sou help. “Uiteindelik het hulle ons uitvinding sonder ons toestemming gevat en gebruik,” sê hy.

Kutumane sê hulle is erg gefrustreerd omdat hulle weens die hofstryd nie hul uitvindsel aan enigiemand anders kan bemark nie.

“Ons lewe het nie enigsins verbeter nie. Ons bly albei steeds by ons ouers en ons bestee die meeste van ons tyd en ons hulpbronne om die saak te beveg.”

Jwambi werk tans vir homself as ’n web-ontwerper in Gugulethu, Kaapstad, en Kutumane installeer en hou toerusting in stand om lugtyd op selfone te laai.

Nedbank ontken in ’n verklaring dat enige van sy werknemers enige beloftes aan Jwambi en Kutumane gemaak het. Volgens Nedbank het hy reeds aan sy eie, soortgelyke idee gewerk nog voordat die entrepreneurs die kompetisies gewen het. Die meganisme om kaarte te bevries en ontvries is ook geensins nuwe tegnologie nie.

Die bank het aangedui hy gaan nou die hof nader om die entrepreneurs se patent te laat herroep aangesien dit volgens hulle nie gegrond is op ’n oorspronklike idee soos wat aangevoer word nie.

Meer oor:  Thandile Jwambi  |  Tatolo Kutumane  |  App  |  Nedbank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.