Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Volledige uitspraak: Só kap regter Dlamini oor Sassa

Bathabile Dlamini, voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling, sal wel moet hoes vir haar aandeel in verlede jaar se debakel van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa).

Die konstitusionele hof in Johannesburg het Donderdag ’n kostebevel uitgereik wat Dlamini deels persoonlik aanspreeklik hou vir die koste van ’n hofsaak met betrekking tot die geldigheid van die aanstelling van Cash Paymaster Services (CPS). Dit is die tweede kostebevel in dié saak.

CPS, ’n private maatskappy, was verantwoordelik vir die uitbetaling van welsynstoelae.

Bathabile Dlamini Foto: Lindile Mbontsi

Regter Johan Froneman het namens ’n volbankregters die eenparige uitspraak gelewer en verwys na die verslag deur regter Ngoepe, wat voorheen bevind het Dlamini is aanspreeklik vir die koste.

Hy het ook daarop gelet dat Dlamini inligting van die hof weerhou het om aanspreeklikheid te vermy.

Die hof het, ingevolge art. 38 van die Wet op Hoër Howe, gelas dat Dlamini sowat 20% van die hofkoste moet betaal, plus die regskoste van die aansoekers, Black Sash en Freedom Under Law. Die oorblywende 80% van die koste moet deur die eerste, tweede en derde respondente gedra word, onderskeidelik die (huidige) minister van maatskaplike ontwikkeling, die hoof van Sassa en Sassa.

Die nasionale vervolgingsgesag is verder beveel om te ondersoek of Dlamini meineed gepleeg het en daarvoor vervolg moet word.

* In 2014 het die konstitusionele hof bevind Sassa se kontrak met CPS in 2012 was onwettig en ongeldig.

Sassa is terug hof toe, want hy was bekommerd dat hy nie sy kontanttoelaes kon betaal nie omdat die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo), wat in CPS se plek aangestel is, nie kontantbetalings kon hanteer nie. Sowat 2,8 miljoen begunstigdes – sowat 25% van die skema - kry hul toelaes in kontant.

Die konstitusionele hof was verlede jaar genoop om CPS se onwettige kontrak te verleng omdat Sassa geen ander manier gehad het om hierdie kontanttoelaes te betaal nie. Sassa moes intussen ’n ander diensverskaffer kry.

Dlamini het in Februarie vanjaar weer die hof dringend versoek om die CPS-kontrak met nog ses maande te verleng, terwyl die krisis rakende die toelaes uitgesorteer word.

Luidens News24 het die minister Sassa vir die vertragings in die betaling van toelaes kwalik geneem en gesê die Sassa-hoof het nie “omvattend met haar oorleg gepleeg nie”. Sassa het op sy beurt aangevoer die minister het die krisis self veroorsaak deur in CPS se belang op te tree deur sy kontrak te verleng.

Dlamini en Pearl Bhengu, destydse waarnemende hoof van Sassa, het aan die hof verduidelik waarom hulle nie in hul persoonlike hoedanighede aanspreeklik is vir die dringende aansoek vanjaar om die kontrak te verleng nie.

Die hof het toe verlede maand gelas dat Sassa en Bhengu (in haar amptelike hoedanigheid) wel aanspreeklik is vir die regskoste. Die hof het verder in Dlamini se guns beslis dat sy nie in kwader trou opgetree toe sy die dringende aansoek gebring het nie en dat sy dus nie persoonlik vir die regskoste aanspreeklik gehou kan word nie. Sy is egter beveel om politieke aanspreeklikheid te aanvaar.

News24 het berig Dlamini het vroeër teruggekap en gesê die konstitusionele hof het geen mag om ’n kostebevel teen haar uit te reik nie. Sy meen ’n enkele individu behoort nie uitgesonder te word as sondebok vir die situasie waarin Sassa hom bevind het nie.

Die aansoek is deur Black Sash en Freedom Under Law, twee nieregeringsorganisasies gebring.

Meer oor:  Bathabile Dlamini  |  Sassa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.