Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Batsa is gereed vir Dlamini-Zuma se appèl

As dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, se aansoek om verlof tot appèl in die tabaksaak slaag, is ’n kruisappèl-aansoek reeds gereed.

British American Tobacco Suid-Afrika (Batsa) en nege ander applikante het Woensdag ’n kennisgewing by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien nadat die minister vroeër die week haar aansoek om verlof om appèl ingedien het.

Hoewel die applikante tevrede is met die hooggeregshof se uitspraak dat die tabakverbod op magsmisbruik neerkom, meen Batsa dit is nodig om, indien verlof tot appèl toegestaan word, ’n aansoek vir verlof om te mag kruisappelleer in te dien.

Daar is minstens drie gronde wat hy in sy aansoek noem waar hy meen die hof gefouteer het.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma

Tegnies staan Batsa nie die minister se aansoek om verlof tot appèl teen nie. Slegs as haar aansoek suksesvol is, tree die teenaansoek in werking.

’n Volbank regters in die hooggeregshof het op 11 Desember 2020 bevind Dlamini-Zuma, die nasionale koronavirus-bevelsraad en pres. Cyril Ramaphosa het hul mag misbruik met die instelling van die verbod op die verkoop van tabakprodukte.

Die regters het bevind inperkingsregulasie 45 – die tabakverbod – is in stryd met die Grondwet en dus ongeldig. Die hof het gelas elke party moet sy eie koste dra.

Volgens die tabakbedryf het die vyf maande lange tabakverbod onherstelbare skade aan die bedryf aangerig dwarsoor die produksieketting, van tabakboere tot tabakhandelaars. Dit het gehelp dat die onwettige mark groei en ’n reuseverlies vir die staatskas veroorsaak deurdat minder aksynsbelasting ingevorder is.

Die bedryf vrees ook dat ’n tweede verbod in die minister se visier is. Sy ontken dit egter.

In Dlamini-Zuma se aansoek om verlof tot appèl betwis sy die meeste van die bevindinge in die uitspraak. Sy voer aan sy en Ramaphosa het nie inbreuk gemaak op die fundamentele regte van waardigheid, privaatheid en liggaamlike en sielkundige integriteit van burgers van die land nie.

Die hof moes ook bevind het die minister kan nie regulasies opdwing wat in stryd met wetgewing is nie.

Volgens haar het die staat nooit verbruikers van die reg ontneem om tabakprodukte te gebruik nie. Dit was ’n “bykomende gevolg” van die verbod.

Ten opsigte van die bevinding dat tabakboere en -handelaars verlam is, sê Dlamini-Zuma dit is duidelik gemaak dat die verbod tydelik sou wees.

Batsa sal in sy kruisappèl die kostebevel bevraagteken.

Hy meen die hof het gefouteer deur nie ’n kostebevel teen die minister te maak nie. Hy sê dit is algemene praktyk dat wanneer ’n private party sukses in die hof teen die regering behaal, ’n kostebevel in hul guns volg.

Batsa sê die gebrek aan so ’n kostebevel sal daartoe lei dat private partye nie meer grondwetlike kwessies sal wil uitdaag nie.

Die hof moes ook bevind het die minister kan nie regulasies opdwing wat in stryd met wetgewing is nie.

Laastens sê die applikante die hof moes nie net die minister se woord aanvaar het toe sy gesê het sy het met die nodige kabinetslede vergader oor die inwerkingstelling van regulasie 45 nie.

Die hof het Batsa se stelling dat die minister geen bewyse kan verskaf dat sy wel met die nodige partye vergader het nie, verwerp. Hierdie bevinding sê Batsa, was verkeerd.

Datums vir die aansoek om verlof tot appèl moet nog bevestig word.

Meer oor:  Batsa  |  Dlamini-Zuma  |  Sigarette  |  Koronavirus  |  Verbod  |  Koronavirussiekte  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.