Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Batsa oorweeg opsies ná saak met 6 weke uitgestel word

British American Tobacco Suid-Afrika (Batsa) oorweeg sy regsopsies nadat sy saak oor die verbod op die verkoop van tabakprodukte met ses weke vertraag is.

Die saak sou op 30 Junie aangehoor word, maar is Vrydag tot 5 en 6 Augustus op die rol geplaas om voor ’n volbank regters aangehoor te word.

Die hof se kwartaallikse reses begin aanstaande week en duur tot 4 Augustus.

Batsa het op 1 Junie ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in die Wes-Kaap teen dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, asook die president en die Covid-19-bevelsraad gebring. Hy voer aan die verbod op die verkoop van tabak en verwante produkte is ongrondwetlik en moet hersien en tersyde gestel word.

Hulle het meer tyd nodig om voor te berei nadat Batsa sy repliek ingedien het.

Partye het aanvanklik ooreengekom dat die saak op ’n dringende grondslag aangehoor moet word en het saamgestem 30 Junie is ’n gepaste datum.

Op 24 Junie het Batsa sy repliek by die hof ingedien. Dié repliek kom nadat Dlamini-Zuma haar opponerende repliek ’n week tevore ingedien het.

Dus het Batsa in agt dae ’n volledige repliek van byna 500 bladsye by die hof ingedien.

Intussen het Netwerk24 ’n brief bekom waarin Melanie Faure, staatsadvokaat, aan regter John Hlophe, regter-president van die hooggeregshof, skryf die staat stem nie meer saam met die datum van 30 Junie nie. Hulle het meer tyd nodig om voor te berei nadat Batsa sy repliek ingedien het.

Die staat voer aan Batsa het mediese getuienis deur twee mediese kenners in die repliek geplaas en die regering het tyd nodig om dit te bestudeer en behoorlik voor te berei.

Luidens die skrywe sou die staat Batsa inlig oor die kwessie en wat die pad vorentoe is nadat hulle opdrag van die regering ontvang het.

“Ons sal dit so gou moontlik doen, maar ons optrede in die verband word beperk deur die moontlikheid van die beskikbaarheid van die respondente se kennergetuies,” lui die brief.

Verder lui die brief: “Ons waardeer u (Hlophe) bereidwilligheid om die saak deur ’n volbank regters te laat aanhoor ná 4 Augustus, en gegewe die dringendheid en belangrikheid, versoek ons dat die saak op 5 en 6 Augustus aangehoor word.”

Dit is uit dié e-pos duidelik dat dit die staatsadvokaat was wat die datums van 5 en 6 Augustus versoek het.

Nadat hulle oor die e-pos ingelig is, het Batsa aangedui dat hy nie daarvan geweet het nie.

Die organisasie het toe in ’n verklaring gesê dit is “kommerwekkend en onrusbarend” dat sy aansoek eers op daardie datums aangehoor word.

Johnny Moloto, hoof van eksterne sake van Batsa, sê die vertraging van regspleging en ’n uitkoms van die kwessie ter sprake is onverklaarbaar.

Die staat het later in ’n verklaring gesê hy is nie te blameer vir die verdere vertraging in die hofaansoek teen hom nie. Hy het daarop gewys dat die kommentaar in die media dat Batsa sê die staat is die oorsaak van die vertraging, is “onverklaarbaar” en “verkeerd”.

Die staat sê dit was die regter-president wat besluit het die saak moet in Augustus aangehoor word.

Die staat het benadruk hy het geen beheer oor die bepaling van hofdatums nie en sê hy het ook geen poging aangewend om die saak te beheer nie.

Die staat het wel ingestem tot die nuwe datums omdat hulle moet voorberei vir die saak nadat Batsa sy repliek ingedien het.

Moloto sê hulle is besig om hul regsopsies te oorweeg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.