
Jaco Meintjies is Maandag gearresteer en op borgtog van R3 000 vrygelaat nadat hy in die streekshof in Mbombela op ’n aanklag van bedrog verskyn het.Foto: Verskaf
’n 45-jarige man is Maandag deur die Valke in hegtenis geneem in verband met ’n bedrogsaak waarby ’n boekhouer van Mbombela in Mpumalanga en haar familie van bedrog van miljoene rande aangekla word.
“Jaco Meintjies is Maandag gearresteer en op borgtog van R3 000 vrygelaat nadat hy in die streekshof in Mbombela op ’n aanklag van bedrog verskyn het,” sê kapt. Dineo Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga.
Volgens Sekgotodi sal Meintjies in Mei saam met die ander verdagtes in die bedrogsaak in die hof verskyn.
Carol Ann Avent (53), ’n voormalige boekhouer van ’n maatskappy in Mbombela, en haar medebeskuldigdes, Lucy Andrea du Preez (50), John Avent (53), Piet Albertus Meintjies (36), Mariea Antoinette le Roux (49) en Kerry Anne Avent (31) word van R11,5 miljoen se bedrog aangekla.
“Al dié mense is familielede van Carol Ann Avent wat daarvan aangekla word dat sy van 2010 tot 2016 verskillende bedrae geld onder verdagte omstandighede in hul bankrekeninge oorgeplaas het,” sê Sekgotodi.
“Die Valke se ondersoekspan is ingeroep nadat die maatskappy waar sy as boekhouer gewerk het, snuf in die neus gekry het. Sy is in 2016 gearresteer en van 1 150 bedrogklagte aangekla,” sê Sekgotodi.
Avent, wat intussen skuldig gepleit het, is op borgtog van R5 000 vrygelaat.