
Roland Williams, voormalige kommunikasiehoof van die Nelson Mandelabaai-metro, verlaat die handelsmisdaadhof in Port Elizabeth ná ’n vorige hofverskyning. Foto: Argief
’n Voormalige kommunikasiehoof van die Nelson Mandelabaai-metro wat skuld beken het op ’n aanklag van versekeringsbedrog, is Maandag in hegtenis geneem nadat hy glo versuim het om sy vonnisvoorwaardes na te kom.
Roland Williams het volgens die nasionale vervolgingsgesag (NVG) Maandag vlugtig in die handelsmisdaadhof in Port Elizabeth verskyn nadat hy vroeër die dag by sy huis in die stad aangekeer is.
Williams het in 2018 skuld beken op ’n aanklag van bedrog nadat hy die versekeringsmaatskappy Santam uit bykans R100 000 bedrieg het. Dit kom nadat sy BMW-motor in 2014 enjinprobleme gehad het wat geldelik nie die moeite werd was om te herstel nie. Hy het daarna sy motor opsetlik beskadig en ’n vals eis ingedien.
In 2018 is hy tot 36 maande korrektiewe toesig gevonnis, asook vier jaar tronkstraf, wat vir vyf jaar opgeskort is. Daarbenewens is hy ’n boete van R30 000 opgelê en deur die hof beveel om voor 31 Mei 2020 die bedrag van R96 000 aan Santam terug te betaal. Die bedrag sou teen ’n minimum van R3 500 per maand terugbetaal moes word.
Santam het intussen ’n beëdigde verklaring by die staat ingedien wat aandui Williams se laaste betaling aan hulle was in Oktober verlede jaar, en dat hy tans nog R40 000 skuld, lui ’n verklaring van Anelisa Ngcakani, ’n provinsiale woordvoerder van die NVG.
Borgtog van R1 000 is Maandag aan Williams toegestaan.
Hy sal weer Dinsdag in die hof verskyn.