Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Bedrogklag ná pa se vriendin ‘miljoene erf’

Die kinders van ’n oorlede ingenieur maak Maandag bedrogklagte aanhangig omdat hulle gemene spel vermoed met ’n tweede testament wat kort voor sy dood geteken is.

Marianne van Zyl en Marius Foot

Marius Foot (64) van Bellville is op 10 Februarie weens kanker oorlede – net 19 dae nadat hy die tweede testament onderteken het.

Sy drie kinders het glo snuf in die neus gekry toe hulle die testament sien. Dit het ’n vorige testament, waarin hulle elk gelyke dele erf, vervang.

In die tweede testament, wat deur die eksekuteur by die Meester van die Hof ingedien is, erf hulle niks en hul pa se vriendin van 23 jaar alles. Rapport het dié vriendin, Marianne van Zyl (64), opgespoor.

Foot se kinders het inderhaas ’n onafhanklike ondersoeker aangestel, wat op sy beurt ’n ontleder van dokumente en handskrifte opdrag gegee het om die tweede testament onder die vergrootglas te plaas. Die uitslag was dat dié dokument onder verdenking is.

Die ondersoeker het die polisie hieroor ingelig, asook dat die oorledene glo ’n oormaat daggaolie in sy stelsel gehad het, waarna ’n geregtelike doodsondersoek begin is.

’n Forensiese span grawe die oorskot van Marius Foot op. Foto: Jaco Marais

Die afgelope Dinsdag is Foot se oorskot in die Durbanville-begraafplaas opgegrawe en forensiese monsters geneem vir ’n toksologie-ondersoek.

’n Ondersoeker van die BVR-regskonsultante, Willem van Romburgh, het Vrydag aan Rapport bevestig twee bedrogklagte gaan gemaak word.

Hy sê daar is wesenlike verskille tussen die twee testamente, wat onderskeidelik in Mei verlede jaar en op 23 Januarie vanjaar onderteken is, en dat die Meester van die Hof, waar die boedel lê, reeds daaroor ingelig is dat die Foot-kinders die egtheid van die tweede testament betwyfel.

’n Lykskouing word in die komende week gehou.

Rapport het by verdere ondersoek vasgestel dat ’n dokter glo in Desember die Foot-kinders meegedeel het dat hul pa nie in staat is om dokumente te onderteken nie. Rapport verstaan verder in die tweede testament beloop pensioenuitbetalings van die polisse onderskeidelik R5,5 miljoen en R4 miljoen.

Van Zyl se dogter (sy verkies om nie geïdentifiseer te word nie) het aan Rapport gesê haar ma lewer op regsadvies nie kommentaar nie.

’n Nabye familielid sê egter aan Rapport Van Zyl is “in ’n absolute toestand oor hierdie gemors” en dat Foot meer as twee dekades lank deel van die Van Zyl-familie was.

Volgens dié familielid was ’n prokureur teenwoordig met die ondertekening van die laaste testament en is die Foot-kinders se aanslag “net suur druiwe”.

Foot se een seun, ook Marius, het by navraag gesê die familie gaan nie nou enige kommentaar lewer nie, en het navrae na Van Romburgh verwys.

Meer oor:  Testament  |  Boedel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.