’n Aanklag van bedrog teen William Chandler, ’n voormalige senior vlieënier van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), is Maandag in die landdroshof in Kempton Park tot 17 Julie uitgestel.

’n Sigbaar gefrustreerde William Chandler kyk op sy selfoon buite die landdroshof in Kempton Park waar hy Maandag op ’n aanklag van bedrog verskyn het. Foto: Werner Beukes

Die 62-jarige William Chandler, geklee in ’n donker baadjie en broek, was sigbaar ontevrede omdat die saak nie vroeër die dag aangehoor kon word nie. Foto: Werner Beukes
Die 62-jarige Chandler, geklee in ’n donker baadjie en broek, was sigbaar ontevrede omdat die aangeleentheid nie vroeër die dag aangehoor kon word nie omdat die staat nagelaat het om afskrifte van die dossier aan sy regsverteenwoordiger, Gerhard Nel, te oorhanding voor sy verskyning.
Hy het verskeie kere, terwyl daar op die afskrifte van die dossier gewag word, die hof verlaat en buite met Nel gepraat voordat hy voor middagete uiteindelik in die beskuldigdebank stelling ingeneem het. Die saak is daarna na die streekshof in Kempton Park oorgeplaas.
Chandler het homself op 11 Maart vanjaar aan die polisie by die OR Tambo Internasionale Lughawe oorgegee waarna hy op borgtog van R5 000 vrygelaat is. Chandler, wat vir meer as twee dekades vliegtuie gevlieg het, het glo slegs ’n kommersiële vlieglisensie en nie die vereiste lugdiensvervoer-vlieglisensie (ATPL) nie. Die SAL vereis dat alle vlieëniers binne vyf jaar nadat hulle in diens geneem word, ’n ATPL bekom. Chandler het intussen bedank nadat die SAL ’n klag van bedrog teen hom ingedien het.
Die lugdiens het vroeër aangedui dat die onreëlmatigheid oor die lisensie in November 2018 tydens ’n vlug na Duitsland aan die lig gekom het. Vlug SA260 na Frankfurt het ’n lugsteurnis ondervind, maar veilig geland. Toe die bemanning op die Airbus A340-600 ondersoek is, het Chandler glo valslik aangevoer dat hy ’n ATPL het.