Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Bejaarde vertel van houe, skoppe en ’n warm strykyster
Leslie (nou 72) en Gail (69) Adlam Dinsdag in die hof. Die egpaar het 'n aanval in Mei 2013 oorleef.Foto: Hanti Otto

Die PVC-pype het harde “plof-plof-geluide” gemaak toe die plaasaanvallers Leslie Albert Adlam herhaaldelik oor die kop geslaan het.

Gail Adlam is uit die bed gepluk en self so geslaan en geskop dat sy in haar eie bloed gegly het.

Een aanvaller het ’n kabel om haar nek gesit en dit twee keer daarom gedraai. Toe hy dit ’n derde keer wou omdraai, het sy die kabel met haar tande gegryp.

Die aanvaller het haar toe met sy arm probeer wurg.

Toe byt sy hom.

David Sibanyoni na sy arrestasie. Die foto is as bewysstuk by die hof ingehandig.

Dit het tot ’n nuwe vlaag vuishoue en skoppe gelei.

Haar een oog was reeds toegeswel. Die ander een het gebloei.

Sy kon egter steeds sien toe een met sy swaar stewels op haar man se kop spring.

Haar man het daarna nie weer beweeg nie.

Dit was van die getuienis wat landdros Adriaan Bekker Dinsdag in die streekhof in Pretoria opgesom het, in sy uitspraak in die saak teen Lucky Mabona, David Sibanyoni en Sam Thabethe.

Die driemanskap ontken dat hulle op 17 Mei 2013 vir Gail (toe 62) en Leslie (destyds 65) op hul plaas naby Bronkhorstspruit, oos van Pretoria, aangeval het.

Hulle word aangekla van huisbraak met die opset om te roof, roof met verswarende omstandighede, die besit van gevaarlike wapens (die PVC-pype), twee aanklagte van poging tot moord, twee aanklagte van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en een van die rig van ’n haelgeweer op mev. Adlam.

Bekker het Dinsdag in detail die getuienis wat tydens die verhoor aangehoor is as deel van sy uitspraak opgesom.

Gail Adlam het in Januarie 2014 vir Lucky Mabona tydens ’n uitkenningsparade uitgewys. Die foto is as ’n bewysstuk by die hof ingehandig.

Hy het begin by mev. Adlam se vertelling van hoe sy daardie donker oggend wakker geword en drie mans in die slaapkamer gesien het.

Haar man het ook regop gesit.

“Hulle (die aanvallers) het haar man dadelik begin aanrand met wit PVC-pype,” het die landdros mev. Adlam aangehaal.

Sy het getuig dat die aanvallers die kluissleutel gesoek het.

Sy het aangebied om dit te kry, maar hulle het haar steeds aangerand.

In ’n stadium het mev. Adlam die aanvallers gevra om haar op te help sodat sy die kluissleutel uit die hangkas kon kry.

Dit was toe dat sy, volgens haar getuienis, Sibanyoni op haar man se kop gesien spring het.

“Mev. Adlam het getuig dat Beskuldigdes 1 en 3 (Mabona en Sibanyoni) haar man daarna bo-op sy kop met ’n rooiwarm yster gebrand het. Hy het nie beweeg nie, ten spyte daarvan,” het Bekker gesê.

Mev. Adlam is ook met die strykyster op die rug gebrand.

Volgens haar getuienis het Mabona en Thabethe daarna na die kantoor gegaan waar die kluis was.

Sibanyoni moes haar oppas.

“Hy het haar (weer) met ’n elektriese koord probeer verwurg. Sy het die blok waarin die prop sou gaan gegryp en hom daarmee geslaan. Hy het geskree en die ander het teruggekom. Hulle het gedreig om haar te verkrag,” het Bekker mev. Adlam se getuienis verder opgesom.

Die res van die getuienis lui dat sy toe saam na die kantoordeel is, Thabethe die haelgeweer uit die kluis gehaal en dit (glo) teen haar gedruk het.

Die bebloede strykyster waarmee Leslie en Gail Adlam tydens die aanval gebrand is. Ook die foto is as bewysstuk ingehandig.

“Mev. Adlam het aangedui dat, as hy haar wil skiet, moet hy. Sy is toe teen die kant van die gesig geslaan en het geval.

“Sy is vasgebind en het haarself losgekry toe sy karre hoor ry,” het die landdros gesê.

Mev. Adlam het hulp ontbied en sy en haar man is hospitaal toe geneem.

Bekker het bygevoeg dat mev. Adlam in Januarie 2014 vir Mabona in ’n uitkenningsparade uitgewys het as een van die aanvallers.

Die landdros het daarna verwys na ander getuienis, soos die van ’n motorwerktuigkundige. Dié het getuig dat die beskuldigdes hom op 17 Mei opgeklop het.

Hulle was in besit van twee voertuie en die getuie moes die opsporingstelsel in die een verwyder.

Hy het egter net gemaak of hy dit doen, en ’n onverwante draadjie losgemaak.

Bekker het voorts gesê die polisie het na die aanval bewysstukke soos leë jogurt-bakkies, ’n strykyster en ’n sigaretstompie wat in een van die geroofde voertuie gevind is, versamel.

Thabethe se DNS is aan die stompie én van die jogurt-bakkies gevind.

Beide Adlams se DNS is aan die strykyster, sowel as die bloed aan die strykyster, gevind.

* Uitspraak vervolg later.

Meer oor:  Leslie Albert Adlam  |  Skoppe  |  Marteling  |  Strykyster  |  Plaasaanval  |  Vuishoue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.