Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Bekende Kaapse prokureur in hof vir beweerde bedrog

’n Vooraanstaande immigrasieprokureur van Kaapstad, bekend om sy hoëprofielhofsake teen die departement van binnelandse sake, is in hegtenis geneem in verband met honderde klagte van bedrog en die vervalsing van dokumente vir buitelanders wat in Suid-Afrika wil bly.

Die immigrasieprokureur Craig Smith.Foto: www.migrationlawyers.co.za

Craig Smith (49), van Craig Smith en vennote, sy vrou, Cornelia Alexa Smith (49), en ’n werknemer, Shafieka Salie (52), het Dinsdag in die landdroshof in Kaapstad verskyn.

Smith was in November in die nuus toe sy BMW M6 wat in Breestraat, Kaapstad, geparkeer was, vol sement gespat is. Smith het gesê dié voertuig is meer as R1 miljoen werd.

Daar is bouwerk in die omgewing gedoen en die sement het op Smith se duur kar beland en droog geword. Hy het die kar net daar gelos sodat sy versekering die kwessie kon oplos.

Smith is in aanhouding en verskyn weer Vrydag in die hof om vir borgtog aansoek te doen. Sy vrou is op borgtog van R1 miljoen vrygelaat en Salie op borgtog van R1 000.

Die klaer in die saak is die departement van binnelandse sake en die beweerde oortredings is luidens die aanklagte tussen Oktober 2011 en 18 Julie 2014 gepleeg.

Die ondersoek teen Smith is verlede Woensdag op die spits gedryf toe die landdroshof in Kaapstad lasbriewe vir die inhegtenisneming van drie verdagtes uitgereik het.

Dié Rus is volgens die DOV bekend as Nikita Gaidouk en sy onderneming as The Alika.

Die direkteur van openbare vervolgings (DOV) in Kaapstad het besluit dat dié saak in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor sal word en die saak sal daarheen oorgeplaas word.

Luidens die aanklagte teen Smith het hy “wettige en onwettige” maniere gebruik om tydelike of permanente verblyfreg vir buitelandse aansoekers in Suid-Afrika te verseker.

Die beweerde onwettige maniere sluit in bedrog, vervalsing, korrupsie, geldwassery asook die oortreding van die Wet op Immigrasie.

Smith was in November in die nuus toe sy BMW M6, wat in Breestraat in Kaapstad geparkeer was, vol sement gespat is.Foto: Petrus Malherbe

Daar word verder aangevoer dat Smith se kliënte in sommige gevalle geweet het daar is bedrog betrokke by hul aansoeke, maar in vele gevalle was die aansoekers onbewus dat hul verblyfpermitaansoeke vervalste dokumente en vals inligting bevat het.

Smith word ook daarvan beskuldig dat wanneer ’n kliënt vir ’n bepaalde verblyfpermit aansoek doen en nie die nodige ondersteunende dokumente gehad het nie, komplekse dokumente met die hulp van ’n Russiese rekenaarkundige vervals is. Dié Rus is volgens die DOV bekend as Nikita Gaidouk en sy onderneming as The Alika. Hy het in ’n stadium in Suid-Afrika gewoon.

Smith sou volgens die aantygings teen hom in die geval waar ’n kliënt met ’n Suid-Afrikaner getroud is en ’n verblyfpermit op daardie gronde wou verkry, onder meer bankdokumente, lidmaatskap aan ’n mediese fonds, testamente en huurkontrakte vervals om te wys dat die kliënt onafhanklik is.

Van die aanklagte teen Smith sluit in 154 van die aanhitsing om ’n misdaad te pleeg, 27 aanklagte van sameswering om ’n misdaad te pleeg, 110 van bedrog en 512 aanklagte van vervalsing.

Meer oor:  Kaapstad  |  Prokureur  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.