Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Bekende musikant weer in hof vir beweerde verkragting

Bronne vertroud met die ondersoek waarin ’n internasionaal bekende Kaapse musikant van onder meer seksuele aanranding en verkragting van 'n seun beskuldig word, sê daar is moontlik nog slagoffers. 

"Die polisie volg baie leidrade op en het die name van ander moontlike slagoffers ontvang, maar dit lyk asof hulle nie betrokke wil raak nie," het Netwerk24 verneem.

Die 48-jarige musikant het Vrydag sy tweede verskyning in die landdroshof in Blue Downs gemaak.

Hy is in Julie by sy huis in Soneike, Kuilsrivier, deur lede van die Kuilsrivier-polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings in hegtenis geneem.

Hy staan tereg op aanklagte van onsedelike aanranding, verkragting en seksuele voorbereiding.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die direktoraat van openbare vervolging, het Vrydag gesê die saak is vir verdere ondersoek tot 26 Februarie 2021 uitgestel.

Die musikant, wat ook ’n musiekvervaardiger en die direkteur van ’n musiekskool in Kaapstad is, is uit op borgtog van R1 000.

Die klaer in die voorval is ’n 21-jarige man van Kuilsrivier. Die beweerde verkragting en seksuele aanranding het glo in 2012 begin toe die klaer 14 jaar oud was. Dit het glo in 2019 gestop toe die klaer 19 was.

As deel van sy borgtogvoorwaardes mag die man nie die woonbuurt Soneike waar hy woon besoek nie. Hy mag ook nie die klaer of enige staatsgetuies kontak nie.

Hy moet hom elke Maandag en Vrydag by die Kuilsrivier-polisiekantoor aanmeld.

* Die hof het vroeër 'n aansoek van twee mediahuise om foto’s te neem en die eerste hofverskyning te verfilm van die hand gewys. Die hof het gelas daar mag geen foto’s van die musikant geneem of enigsins gepubliseer word nie. Sy identiteit mag ook nie bekend gemaak word nie. Die identiteit van die klaer mag ook nie bekend gemaak word nie.

Meer oor:  Kuilsrivier  |  Musikant  |  Hof  |  Kindermishandeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.