Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Beleefdheid belemmer byna sluipmoord

Die sluipmoord op Louis Siemens (52) in die kelderverdieping van die Prellerplein-sentrum in Bloemfontein was haarfyn beplan.

Dit blyk uit video’s van kringtelevisiekameras wat in die Vrystaatse hooggeregshof gewys is.

Dit het blykbaar byna skeefgeloop toe Siemens nie die middag saam met twee van sy moordenaars in die hysbak geklim het nie en hulle toe sonder hom saam met ander mense in die hysbak uit die kelderverdieping vertrek het.

Mojalefa Molosi (links) in die beskuldigdebank. Foto: MLUNGISI LOUW

Toe ander mense ook wou inklim, het Siemens eenkant toe gestaan om hulle geleentheid te gee.

Net langer as ’n minuut later was die twee huurmoordenaars met die hysbak terug en een het Siemens, wat by die hysbak wou ingaan, gegryp en eenkant toe geruk met die skieter agterna, waarna die skote glo geklap het.

Vermoedelik was die plan om hom in die hysbak te skiet.

Xolisile (Botha) Mbebetho het Siemens eers twee keer geskiet. Terwyl hy op die vloer gelê het, is hy weer twee keer geskiet.

Elvis Galeboe (31, regs), ’n “profeet” van die Livingston Revival Ministries, Donderdagmiddag in die Vrystaatse hooggeregshof. Foto: MLUNGISI LOUW

Die een wat Siemens voor die deur van die hysbak gegryp het, is deur Ohuliseng Selemela (31), destyds ’n kelner by Annie’s Coutry Kitchen in die sentrum, Donderdag voor regter Pitso Molitsoane as Mojalefa (Jali) Molosi met sy wit wyerandhoed uitgeken.

Mbebetho dien 22 jaar tronkstraf uit nadat hy reeds vroeër skuld op dié moord op 10 Mei verlede jaar beken het.

’n Foto van ’n video van Annie’s Country Kitchen se stoep wat in die Vrystaatse hooggeregshof gewys is. Op die foto loop Stanley Bakili na die deur van die restaurant. Foto: MLUNGISI LOUW

Dit blyk uit die video’s dat Siemens, besturende direkteur van die CityMed-daghospitaal in die sentrum, dié middag ’n paar keer by sy moordenaars verby is wat hom in die kelderverdieping ingewag het.

Hy het altyd van die hospitaal deur die kelderverdieping na Annie’s Country Kitchen geloop, het Selemela getuig.

Op ’n ander video word gewys hoe Siemens en Stanley (Kibi) Bakili, die vermeende meesterbrein agter die moord, kort voor die skietery in die restaurant sit.

Siemens het dokumente by hom gehad en ná ’n gesprek het Bakili die dokumente onderteken. Bakili het ’n paar keer na buite die restaurant gekyk terwyl hulle gepraat het.

Net toe Molosi die restaurant binnekom, het Bakili afgebuk, blykbaar om sy skoen vas te maak.

Molosi is daar uit en in die rigting van die kelderverdieping.

Die video’s toon dat Bakili ’n paar keer in en uit die restaurant was, ’n keer of wat na die ingang van die kelderverdieping geloop het en ’n minuut of wat weg was.

Een keer het hy oor die straat gestap, onder ’n boom gaan staan, oor ’n ander straatjie geloop en weer terug na die restaurant gegaan.

Die verhoor duur voort.

* Die oë het gistermiddag gerek toe Elvis Galeboe (31), ’n “profeet” van die Livingston Revival Ministries, net ná middagete in die hofsaal aankom en indringend met Bakili gesels het.

Galeboe is verlede maand op borgtog vrygelaat nadat hy aangekla is in verband met ’n moord op ’n sakeman en boer, Ntau Mokoena (51), in sy huis in Fichardtpark.

Galeboe word na bewering as die tussenganger tussen Mokoena se vrou, Kelebogile Louisa (51), en die huurmoordenaars beskou.

Stanley Bakili in die Vrystaatse hooggeregshof. Foto: MLUNGISI LOUW
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.