Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Beleggers verloor R23 m. – man 15 jaar tronk toe

David Wilmot (47) van Port Elizabeth, wat honderde beleggers met ’n buitelandsevaluta-skema saam uit meer as R23 miljoen bedrieg het, is tot tronkstraf van 15 jaar gevonnis.

Regter Johannes Claassen het Wilmot op 165 aanklagte van onder meer bedrog en die oortreding van verskeie finansiële wette in die handelshof in Port Elizabeth gevonnis.

Wilmot het beleggers (onder andere mense wat in dieselfde kerk as hy was, familielede, vriende en kennisse) belowe dat hy deur middel van sy maatskappy Novashore hul geld in buitelandse valuta gaan belê.

Dit het aan die lig gekom dat Wilmot net sowat R2,5 miljoen belê het. Die res van die geld is vir sy eie gewin gebruik, hoofsaaklik om sy luukse lewenstyl te befonds.

Nie een van Wilmot se handelsrekeninge het ’n profyt getoon nie, maar hy het aan beleggers voorgegee dat hy reeds reuseprofyt vir sy kliënte ingeryg het.

Nicolette Martin het ter verswaring van vonnis getuig sy en haar man het R1 miljoen by hom belê en dit verloor.

Hulle het besluit om te belê omdat hulle van voorneme was om van Australië na Suid-Afrika te immigreer.

Een van hul kinders is outisties en die egpaar wou hom by ’n skool in Suid-Afrika kry wat in sy behoeftes kon voorsien.

David Wilmot buite die hofsaal. Foto: Lulama Zenzile

Martin is ’n Suid-Afrikaner en haar man ’n Australiër.

Volgens Martin sou haar man ook die beleggingsgeld gebruik om ’n besigheid in Suid-Afrika te begin.

“Ons het nie geld gehad wat rondlê nie. Ons het ons huis in Suid-Afrika verkoop om (by Wilmot) te kon belê.

“Die verlies het ’n uiters negatiewe uitwerking op my gesin gehad. My man werk die afgelope tien jaar al in Australië om in ons finansiële behoeftes te voorsien. As buitelander kan hy nie hier werk nie.

“Hy word van die kans ontneem om sy kinders te sien grootword. Dit is uiters stresvol vir my as ma en vrou.”

Cherise Milne en haar man het R2,5 miljoen verloor. Dit het onder meer die geld in hul kinders se spaarrekeninge en hul pensioengeld en polisse ingesluit.

Milne het in trane uitgebars toe sy vertel dat haar man nou twee keer so hard moet werk om die verlies te probeer inhaal.

Tjaart van Zyl, staatsaanklaer, sê die gevoellose manier waarop Wilmot beleggers genader het om sy misdade te pleeg, dien as verswarende omstandighede.

Hy sê Wilmot het baie tyd gehad om oor sy dade te besin en daarmee op te hou, maar hy het nie.

Volgens Van Zyl het Wilmot die vertrouensposisie tussen hom en sy beleggers misbruik. Die miljoene wat hy verkwansel het, sal nooit verhaal kan word nie.

Wilmot se regsverteenwoordiger, Anlen Murray, het aan die hof gesê dat haar kliënt nie in ’n posisie is om die beleggers terug te betaal nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.