Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Beloftebos-saak oor gay-troues nou na gelykheidshof

Die Beloftebos-trouplaas buite Stanford in die Wes-Kaap sal verjaardagpartytjies reël vir paartjies van dieselfde geslag, asook hul werksgesellighede of enige ander geleenthede aanbied, nét nie hul troue nie.

En nee, net soos wat hulle nie troues vir selfdegeslagpaartjies sal aanbied nie, sal hulle ook nie Halloween-partytjies daar hou nie, ongeag wie dit wil aanbied.

Dít is teen die eienaars, Andries en Coia de Villiers, se geloof.

Beloftebos, wat Maandag deur die Menseregtekommissie (MRK) na die gelykheidshof gesleep is om hulle te dwing om die troues van selfdegeslagpaartjies aan te bied, sê hulle diskrimineer nie teen enigiemand oor wie hulle liefhet of hoe hulle liefhet nie.

Die De Villiers-egpaar is wel Christene en diep gelowig en glo dat ’n huweliksplegtigheid ’n heilige verbintenis is tussen ’n man en ’n vrou in die teenwoordigheid van God.

André Gaum
Adv. André Gaum, kommissaris van die Menseregtekommissie, Maandag voor die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: Marelize Barnard

Die huweliksplegtigheid is vir die eienaars van Beloftebos ’n simboliese uitbeelding van “die liefde en toewyding tussen Christus (as die bruidegom) en sy kerk (die bruid)”.

Hulle glo dat die vryheid van geloof in die Grondwet beskerm word en dat hulle toegelaat behoort te word om te mag besluit watter geleenthede en aktiwiteite hulle op hul eiendom mag toelaat.

Die organisasie Freedom of Religion South Africa (For SA) het in ’n verklaring namens Beloftebos gesê hulle is nog slegs deur die media in kennis gestel dat die MRK die saak na die gelykheidshof geneem het.

Indien dié hof ’n besluit teen Beloftebos maak en hulle dwing om ’n geleentheid aan te bied wat teen hul gewete en geloof is, sal elke verskaffer van goedere en dienste in Suid-Afrika net so gedwing kan word om werk te aanvaar waarmee hulle fundamenteel nie saamstem nie, sê For SA.

Adv. André Gaum, kommissaris van die MRK, het Maandag op die trappe van die hooggeregshof ’n mediakonferensie gehou en gesê die saak spruit uit twee voorvalle waarvan die MRK klagte ontvang het.

In die eerste geval wou Alexandra Thorne en Alex Lu in 2017 by Beloftebos trou en in die meer onlangse geval was dit Megan Watling en Sasha-Lee Heekes wat ook daar wou trou.

Dit is ’n baie belangrike saak, want dit het nie net implikasies vir Beloftebos nie, maar vir enige ander besigheid, ongeag watter besigheid dit ook al mag wees.

Gaum sê dat Beloftebos staatmaak op sy godsdiensvryheid en godsdiensregte en dat hy dit gebruik om onbillik teen die paartjies te diskrimineer.

“Dit is ’n baie belangrike saak, want dit het nie net implikasies vir Beloftebos nie, maar vir enige ander besigheid, ongeag watter besigheid dit ook al mag wees,” sê Gaum.

Die MRK versoek die gelykheidshof moet bevind dat Beloftebos en sy eienaars strydig opgetree het teen die Gelykheidswet, tweedens om te verhoed dat Beloftebos weer onbillik diskrimineer en verder ook dat hulle verskoning moet vra aan die paartjies. Die MRK vra ook ’n kostebevel.

Megan Watling (25) en Sasha-Lee Heekes (24 .Foto’s: Jaco Marais

Gaum sê die MRK wil juis hê die saak moet op dié en nie op ’n landdroshof-vlak nie hanteer word, en die MRK gaan vra dat daar ’n volbank regters oor die saak moet beslis.

Hy sê dit is belangrik dat daar ’n presedent geskep word. “Ons het gedink dat dit ’n belangrike saak is vir besighede en menseregte en om seker te maak dat die beginsel duidelik gestel word dat mense nie in die naam van godsdiensvryheid onbillik kan diskrimineer nie,” sê Gaum.

Selfs in die geval van privaat besighede word dit in die Gelykheidswet gestel dat hulle nie mag diskrimineer nie, het hy gesê.

* Intussen het Watling en Heekes die MRK van goedkoop politiekery beskuldig en gesê hulle is nie daaroor ingelig dat die MRK Maandag sou voortgaan om die aansoek in te dien nie.

Die twee vroue sê hulle het hul klag by die MRK onttrek en dat die MRK se aansoek in weerwil van hul besluit so blitsig sonder hul medewete by die gelykheidshof ingedien is.

Meer oor:  Sasha-Lee Heekes  |  Megan Watling  |  Beloftebos  |  Troues  |  Mrk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.