Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Bendeleier en ander swaar gestraf

Die leier van die Terrible Josters-bende in Elsiesrivier, Delft, Kleinmond en Wesbank is Maandag in die hooggeregshof in Kaapstad lewenslange tronkstraf vir die moord op Vernon Botes op 29 Junie 2015 in Belhar opgelê.

Horatio “Voudie” Solomon (31), susterskind van Ernie “Lastag” Solomon, vermeende hoofleier van die Terrible Josters, is ook nege jaar en agt maande tronkstraf opgelê vir poging tot moord op Herbert du Plooy, 12 jaar vir dwelmhandel en drie jaar op aanklagte wat verband hou met die Wet op Georganiseerde Misdaad (Poca).

Sy regterhand, Ismail Ockerts, wat op dieselfde aanklagte as Solomon skuldig bevind is, is ook lewenslange tronkstraf opgelê vir Botes se moord, agt jaar en tien maande vir poging tot moord op Du Plooy, 12 jaar vir dwelmhandel en drie jaar op Poca-verwante aanklagte.

Solomon, Ockerts en vier ander Terrible Josters-lede is in September vanjaar skuldig bevind aan moord, poging tot moord, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, handel in dwelms en Poca-verwante aanklagte.

Horatio “Voudie” Solomon Foto: Verskaf

Regter Owen Rogers het met sy vonnisoplegging gesê dat Solomon en Ockerts geen berou getoon het vir hul dade nie. Hoewel hulle jonk was met die pleeg van die dade en hulle nie self die snellers getrek het nie, is hulle as die mense wat die bevel uitgereik het, net so skuldig soos dié wat die snellers getrek het.

Hy het gesê dat hulle die geleentheid gehad het om die staat in hul vertroue te neem, maar dat hulle dit nie gedoen het nie.

Solomon is deur ’n voormalige lid van die bende wat staatsgetuie geword het, uitgewys as die leier van die bende in Delft.

Die ander lede van die bende wat tronkstraf opgelê is, is Fabian “Fabba” Constable (28), Ziyaad Saafodien (28), Keenan Kruger (25) en Lucian Consul (24).

Kruger en Consul is ook altwee lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op George Stevens op 4 Februarie 2016 in Clarke-landgoed, Elsiesrivier.

Kruger is lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Victor Browers in Desember 2016 in Elsiesrivier. Consul is 22 jaar tronkstraf hiervoor opgelê.

Constable, wat skuldig bevind is op twee aanklagte van poging tot moord, is onderskeidelik tien en agt jaar tronkstraf daarvoor opgelê. Hy is ook vyf jaar tronkstraf opgelê vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en drie jaar vir die onwettige besit van ammunisie.

Safodien is op sy beurt nege en sewe jaar tronkstraf opgelê op twee aanklagte van moord waarop hy skuldig bevind is, ’n verdere ses jaar vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en drie jaar vir die onwettige besit van ammunisie.

Al hul vonnisse word samelopend uitgedien.

Meer oor:  Terrible Josters  |  Wesbank  |  Elsiesrivier  |  Delft  |  Kleinmond  |  Bende  |  Bendegeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.