Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Beserings nie deur Parys-6 toegedien, hoor hof

Prof. Jan Botha, ’n afgetrede patoloog, het Maandag in Parys se rondgaande hof getuig dat dit hoogs onwaarskynlik is dat die beserings van die twee oorledenes, Samuel Tjixa en Simon Jubeba, die toedoen van een van die Parys-6 was.

Botha getuig namens die verdediging.

Van links is Anton Loggenberg, Henk Prinsloo, staande, met Cor Loggenberg en Loedie van der Westhuizen regs van hom, Maandag in die rondgaande hof in Parys. Foto: Alet van der Walt

Adv. Piet Pistorius, vir die beskuldigde Boeta van der Westhuizen, het aan Botha gevra of hy sou dink dat twee mense wat oor ’n ruwe terrein in ’n polisievangwa vervoer is, beserings soortgelyk aan dié van Tjixa en Jubeba kon opdoen.

Botha het aan die hof gesê dat die manier waarop die twee mans ná die beweerde aanrandings van die toneel af vervoer is, beslis hul dood kon veroorsaak of hul bestaande beserings so kon vererger dat dit noodlottig kon wees.

Die mans was bewusteloos of half bewusteloos toe hulle in ’n vangwa vervoer is.

Botha het oor die getuienis deur die staat se art. 204-getuies dat Van der Westhuizen een van die twee mans herhaaldelik met ’n vuurwapen in sy gesig en oor sy kop geslaan het, gesê die beserings aan die slagoffer strook nie met die bewering nie.

Oor die klag dat Anton Loggenberg, beskuldigde nommer twee, op die een man se kop gestaan het, het Botha gesê hy sou verwag dat daar duidelike afdrukke van die skoen se sool op die slagoffer se kop sou wees.

Hy het gesê dat die een skedelfraktuur moontlik veroorsaak kon wees wanneer ’n mens op iemand se kop sou trap, maar dan sou daar duidelike afdrukke en kneusings aan die vel wees.

Ook bewerings deur die staat se getuies dat beskuldigde nommer drie, Cor Loggenberg, een van die oorledenes herhaaldelik met ’n rottangkierie oor sy ribbes geslaan het, is deur Botha weerlê.

’n Mens sou duidelik “treinspoor-littekens” op die slagoffer se lyf sien en daar is geen mediese getuienis om dié bewering te staaf nie.

Botha het ook gesê dat die gebreekte ribbes van een van die mans bykans simmetries is.

Johan Vorster, Anton Loggenberg se prokureur, bestudeer sy notas terwyl die hof verdaag het. Agter hom is Loggenberg se seun en medebeskuldigde, Cor. Foto: Alet van der Walt
Vier van die Parys-6: Van links is Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Henk Prinsloo en Cor Loggenberg.Foto: Alet van der Walt

“Die soort beserings wanneer twee mense iemand skop wat lê, sou meer kneusings en beserings aan die vel veroorsaak het. Dit is ook onwaarskynlik dat die breek van die ribbes so simmetries sou wees,” het Botha gesê.

“ ’n Mens verwag ook dat die patroon van die aanvallers se skoene op die vel sigbaar sou wees.”

Daar is voorheen getuig dat Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren een van die mans herhaaldelik van weerskante geskop het.

Botha het op ’n vraag van adv. Hennie du Plessis gesê die manier waarop die ribbes gebreek is, stem ooreen met wat moontlik ’n harde duikslag kon wees.

Ook kneusings aan een van die mans se borskas stem ooreen met beserings wat ’n mens kan verwag wanneer iemand hard van agter geduik word.

Tjixa en Jubeba is op 6 Januarie 2016 ná ’n beweerde plaasaanval buite Parys aangekeer. Hulle is volgens die staat so erg aangerand dat hulle weens hul beserings op 7 Januarie oorlede is.

Die staat sal Botha Dinsdag kruisondervra.

Regter Corné van Zyl hoor die saak aan.

Meer oor:  Samuel Tjixa  |  Simon Jubeba  |  Parys-6  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.