Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Besetters loop hulle vas teen hofbevel

’n Groep mense het hulle Sondag teen ’n hofbevel vasgeloop toe hulle weer op ’n stuk munisipale meentgrond langs die Bram Fischer-lughawe by Bloemfontein wou intrek.

’n Man loop Sondag met ’n graaf op ’n stuk grond in Estoire, Bloemfontein, wat mense wil beset op huise te bou. Foto: André Damons

Sowat 150 mense het Sondagoggend by die stuk grond langs Tibbie Visser-laan in Estoire opgedaag en vir hul erwe uitgelê.

Dit kom nadat ’n groep van sowat 40 verlede Sondag eers by die verkeerde adres in Tielman Roos-laan, Vaalbank-Suid, opgedaag het en erwe uitgelê het. Dit was nie die munisipale eiendom soos wat hulle gedink het nie en hulle is toe teen skemeraand daar weg.

Netwerk24 het vroeër berig die stuk grond word gebruik deur die Bram Fischer-meentgrondvereniging wat Vrydag ’n tussentydse hofbevel gekry het wat die mense verbied om die grond te beset.

Lucas Thibile, voorsitter van die vereniging, sê in ’n hofverklaring sy 20 lede boer al van voor 2010 met

sowat 200 beeste, skape, bokke en varke op dié stuk grond, het Netwerk24 berig.

Kapt. R.J. Koaho van die polisie, ’n lid van die vereniging wat 40 stuks vee daar het, sê in ’n hofverklaring

dit is jammer dat daar voor ’n verkiesing gewoonlik ’n toename in onwettige grondbesettings is.

Toe die mense Sondagoggend weer by die grond opdaag, het die balju vir hulle die hofbevel voorgelees. Hulle is ook deur beamptes van die Vrystaatse departement van menslike nedersetting toegespreek.

Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê lede van die polisie se openbare orde-eenheid was ook op die toneel om situasie dop te hou.

“Die groep het soms gesing, maar was nie gewelddadig of aggressief nie. Hulle is vreedsaam uitmekaar,” sê Covane.

’n Groep mense drom saam op die grond in Estoire naby die Bram Fischer-lughawe voordat hulle uitmekaar is. Foto: André Damons

Van die mense het gesê hulle bly in Hilton en betaal te veel vir huur. Volgens hulle gaan hulle terugkom en vir hul huise opslaan.

“Hulle sê ons kan nie hier bly nie, want skape en beeste wei hier. Diere het grond, maar ons het nie blyplek nie. Dit kan nie so werk nie. Ons is hier om die grond te vat. Die huur is te veel waar ek nou bly,” het ’n man gesê.

Volgens Covane is ’n saak van betreding by die Navalsig-polisiekantoor ingedien.

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die metro, sê die metro se wetstoepassers sal nie toelaat dat mense onwettige grond beset nie. Prosesse is aan die gang om vinnig grond beskikbaar te stel vir kommersiële of residensiële ontwikkeling. Advertensies hiervoor sal binnekort verskyn.

“Ons het reeds 900 erwe in Fase 6 en 7 vir mense beskikbaar gestel. Wat ons agterkom, is dat mense betoog en grond beset omdat hulle nie op die waglys is nie.

“Ons gaan nie onwettige grondbesettings en prosesse duld nie. Die burgemeester het teikens gestel om te verseker mense kry erwe. Die grond wat ontwikkel word, moet in pas wees met die nasionale ontwikkelingsraamwerk en die stad se ontwikkelingsplanne sodat ons ekonomies kan ontwikkel en werkskepping kan plaasvind,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.