Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Beskuldigde erken diefstal, sê sy makker het gemoor

Een van die twee beskuldigdes wat op die moord van ’n bejaarde vrou in Port Elizabeth teregstaan, het op ’n aanklag van huisbraak skuld beken, maar nie op die klagte van moord en roof nie.

Sizwe Jika word saam met Junior Lungisa van die moord op Anne Smith (86) aangekla.

Sizwe Jika stap Dinsdag by die beskuldigdebank van die hooggeregshof in Port Elizabeth in. Foto: Cara-Lee Dorfling

Die verhoor word tans in die hooggeregshof in Port Elizabeth aangehoor waar Jika Maandag skuldig gepleit het op huisbraak met die doel om te steel.

In sy pleitverduideliking het Jika die skuld aan die moord op Lungisa gepak en gesê hy het niks met die aanval op Smith te doen gehad nie.

Smith is op 28 Mei 2018 aangeval in die hoofhuis op die erf waar sy in ’n woonstel in Marthastraat, Kammapark, gewoon het.

Sy is blykbaar met ’n hamer herhaaldelik oor die kop geslaan en het later in ’n hospitaal aan haar wonde beswyk.

Benewens Smith se moord, staar nóg aanklagte in twee afsonderlike moordsake Jika in die gesig.

Hy word beskuldig van die moord op Kelly Bain (26), ’n ma wat verlede jaar in Julie met ’n mes doodgesteek is terwyl sy saam met haar maand oue baba by haar huis in Brymore was, asook die moord op Anne Ferreira (83), wat in Mei verlede jaar in Kurmankloofweg, Somerstrand, vermoor is.

In albei gevalle was huisroof oënskynlik die motief vir die aanval.

Junior Lungisa in die hooggeregshof in Port Elizabeth. Foto: Cara-Lee Dorfling

Jika het gedurende sy pleitverduideliking in die Smith-moordsaak gesê hy en Lungisa het die dag van die voorval tik en Mandrax gerook. Daarna het hulle na die Lorraine-woonbuurt beweeg met die doel om by ’n huis in te breek en te steel.

“Die plan was om voor te gee ons vra vir skenkings. Ons het huise se deurklokkies gelui en as niemand antwoord nie, breek ons in met die doel om waardevolle goedere te steel. Ek het geen vuurwapen in my besit gehad nie,” lui Jika se pleitverduideliking.

Hy beweer hulle het ’n huis in Marthastraat geteiken en nadat daar geen antwoord by die voordeur was nie, het Lungisa die skuifdeur oopgedwing.

Hulle het dadelik waardevolle goedere, insluitend juweliersware gevat, voordat hulle op ’n geslote kluis afgekom het.

Hulle het glo ’n hamer en ’n ysterpyp in die stoor gekry en die kluis daarmee probeer oopkap.

Die vermoorde Anne Smith. Foto: Argief

Die geraas van die gekap het vermoedelik Smith se aandag getrek en sy het ondersoek ingestel.

Jika beweer hy was in die kombuis om water te drink toe hy vir Smith in die gang sien staan, wat hom gevra het hoekom hulle sonder haar toestemming in die huis is.

“Ek het agteruit geloop, want ek was in skok. My medebeskuldigde, Junior Lungisa, het skielik die vrou met ’n hamer op haar kop geslaan en sy het geval. Ek het gesien die vrou se kop bloei en my medebeskuldigde het haar weer geslaan terwyl sy op die grond was, met ’n byl.”

Jika sê hy en Lungisa het begin stry, omdat hy niemand in die huisbraak wou beseer nie.

Hulle het kort daarna met ’n sak vol gesteelde goedere gevlug.

Buite die huis in die straat het Gerrie Koen, ’n inwoner van Marthastraat, hulle voorgekeer en gevra wat hulle in die gebied maak en wat in die sak is.

Koen het Dinsdag onder kruisverhoor deur Peet Schoenraad, Lungisa se regsverteenwoordiger, gesê dat Lungisa drie keer gesê het hulle het gereedskap kom afhaal nadat hulle vroeër in die gebied gewerk het.

Koen het verder gesê Lungisa het egter kort daarna gesê hulle is in die gebied om te steel, waarna hulle laat spaander het. Die sak met goedere is in ’n nabygeleë straat opgetel.

Schoenraad en Khaya Saziwa, regsverteenwoordiger vir Jika, het gesê hul kliënte erken hulle het gevlug, maar beweer dit was uit vrees aangesien hulle geglo het Koen buk af in sy motor om ’n vuurwapen uit te haal terwyl hy hulle gekonfronteer het.

Koen het gesê hy het sy hand van die stuurwiel afgehaal en na die deur se handvatsel gereik om uit te klim en dat hy geensins ’n vuurwapen in sy besit gehad nie.

Die verhoor duur voort.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Hof  |  Beskuldigde  |  Moordverhoor  |  Diefstal  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.