Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Beskuldigde glo gedreig, sou hy nie saamwerk
Gerhardus Papenfus staan hier langs sy medebeskuldigdes, Kevin Johnson en Ruvan Furst. Hulle staan saam met Estelle Reddy in die hoofgeregshof in Pretoria tereg vir die moord op Danie Dreyer, ’n oudpolisieman. Foto: Deaan Vivier

Estelle Reddy het glo, toe Gerhard Papenfus wou polisie toe gaan oor Danie Dreyer se dood, gedreig dat as hy nie saamwerk nie, sy vir die polisie gaan vertel dat Papenfus en sy vriende vir Dreyer vermoor het.

Papenfus het Maandag in die hooggeregshof in Pretoria volgehou dat die oud-Springbokstoeier en afgetrede polisieman op 28 Maart 2016 aan ’n hartaanval dood is en dat hy (Papenfus) nog noodbehandeling op hom toegepas het.

Hy het voet by stuk gehou dat hulle nie vir Dreyer (63) vermoor of beroof het nie, maar erken dat hy, Reddy, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst die lyk in ’n mangat versteek het.

Volgens Papenfus het Dreyer daardie Maandag (28 Maart 2016) ’n hartaanval gehad toe hy, Johnson en Furst by die oorledene se huis was om die troeteldiere kos te gee.

Reddy was by ’n verlowingspartytjie in Laudium.

Papenfus het herhaal hoe hy van buite die huis harde stemme binne gehoor het nadat sy twee manlike medebeskuldigdes in is om die hondekos te kry.

Toe hy weer sien, bloei Furst se vinger waar Dreyer hom gebyt het, en lê Dreyer op die grond.

Die mans het glo paniekerig geraak toe hulle nie vir Dreyer bykry nie, toe draai hulle die lyk in ’n duvet toe en versteek dit in die onderste deel van Dreyer se bed.

Volgens Papenfus kon hy nie in daardie stadium polisie toe gaan nie, omdat hy nie sy foon of ’n voertuig by hom gehad het nie, die drie mans “hoog” was op dwelms en drank en Furst gebloei het.

“Hoe sou dit lyk? Niemand sou ons glo dat Danie ’n hartaanval gehad het nie,” het hy getuig.

Hulle het toe eerder vir Reddy gaan haal en terug by Dreyer se huis die lyk in ’n “spanpoging” verder met lakens en plastiek toegedraai en weer teruggesit.

’n Paar dae later is besluit om Dreyer se lyk in ’n mangat by Papenfus se buurhuis te gooi.

“Ons het die lyk uit die bed se basis gaan haal. Dit het begin lek, toe rol ons dit mooi toe in ’n mat. Dit het baie rof gegaan, hy (Dreyer) was baie, baie swaar.

Ons het die lyk uit die bed se basis gaan haal. Dit het begin lek, toe rol ons dit mooi toe in ’n mat. Dit het baie rof gegaan.

“Ons het hom laat val by die agterdeur se trappe, toe weer ’n ent verder op pad na die (Dreyer se) Fortuner,” het Papenfus getuig.

By sy huis het hulle gewag dat die buurman ry en toe trek Reddy die Fortuner nader aan die mangat.

“Sy en Zulu (Johnson) het die lyk uitgehaal en dit wéér laat val. Ek het dit toe alleen opgetel en oor my skouer gegooi en na die mangat gestap.”

Papenfus het die oorledene kop eerste in die mangat gesit. Dreyer se skouers wou nie inpas nie, en Papenfus moes die lyk “wikkel”. Reddy het gesê hul moet afgaan in die gat om die lakens en plastiek te verwyder.

Papenfus het ’n leer gaan haal, maar gesê daar is nie “ ’n manier” dat hy ingaan nie.

Die leer se voete moes op die lyk onder-in die mangat stut, omdat daar nie staanplek daarvoor op die bodem was nie.

Papenfus het getuig dat hy die res van die week dwelms gebruik het.

“My hele lewe het uitmekaar geval . . . En met al die dinge . . . Al wat ek geweet het, is dat ek moet terugvlug na die Here toe.”

Daardie Sondag, byna ’n week ná Dreyer se dood, is hy en Reddy kerk toe.

Die Maandag het die polisie vir Papenfus in hegtenis geneem.

* Die verhoor duur voort en al vier beskuldigdes bly in aanhouding.

Meer oor:  Gerhard Papenfus  |  Kevin Johnson  |  Estelle Reddy  |  Pretoria  |  Moord  |  Moordsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.