Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Beskuldigde het homself in sel probeer ophang, hoor hof

Donovan McInnes, wat tereg staan weens die moord op sy meisie in Pretoria, het homself twee keer om die lewe probeer bring op die toneel waar sy na bewering verwurg is.

Kort voor sy eerste hofverskyning het hy homself ’n derde keer om die lewe probeer bring deur homself in die aanhoudingselle te probeer ophang.

Adéle Bezuidenhout Foto: Facebook

Dít is van die getuienis wat Vrydag in die landdroshof in Pretoria in McInnes (31) se borgtogaansoek aan die lig gekom het. Hy staan tereg op die moord op sy vriendin, Adéle Bezuidenhout (32).

McInnes se ma het voor haar seun se verskyning in die hofbanke gesit en hoorbaar geneurie. ’n Toe Bybel was langs haar op die bank.

Bezuidenhout se lyk is op 18 Augustus in die hoofslaapkamer van haar huis in die Rietvlei-Ridge-landgoed suid van Pretoria gekry. McInnes is kort daarna op die toneel in hegtenis geneem.

Dit het Vrydag in die hof aan die lig gekom dat Brian Rees, McInnes se swaer, teen hom gaan getuig. McInnes het tot en met sy arrestasie by Rees en sy gesin in Midrand gewoon.

Kgiso Ronchu, die staatsaanklaer in die saak, het Rees en ander staatsgetuies se beëdigde verklarings aan die hof voorgelees.

Luidens die ondersoekbeampte in die saak se verklaring het McInnes homself twee keer op die toneel probeer doodmaak nadat Bezuidenhout dood verklaar is.

“Hy het ’n glas gebreek en sy keel in die badkamer probeer sny en daarna het hy homself weer in die kombuis probeer doodmaak.”

Luidens dieselfde verklaring het McInnes homself kort voor sy eerste hofverskyning in die aanhoudingselle probeer ophang.

“Die staat staan borgtog teen omdat die beskuldigde duidelik ’n gevaar vir sy eie veiligheid inhou en omdat hy ’n vlugrisiko is,” het Ronchu gesê.

Die staat staan borgtog teen omdat die beskuldigde duidelik ’n gevaar vir sy eie veiligheid inhou en omdat hy ’n vlugrisiko is.

Rees sê in sy beëdigde verklaring hy wil nie hê McInnes moet langer in sy huis bly nie.

McInnes het hom die oggend van Bezuidenhout sy dood gebel en hom gevra om na die huis te kom. Rees het met sy aankoms daar die ambulans gebel.

McInnes se regsverteenwoordiger, JP Venter, het gesê sy kliënt sal by sy oom in Kempton Park gaan woon indien borgtog toegestaan word.

Venter het gevra vir uitstel sodat sy kliënt ’n bykomende beëdigde verklaring kan indien. Volgens Venter is hulle eers kort voor die verskyning daarvan ingelig dat staatsgetuies se getuienis voorgelees gaan word.

Die versoek om uitstel is toegestaan.

Venter het vroeër McInnes se oorspronklike beëdigde verklaring voorgelees. McInnes beweer in dié verklaring dat hy lief was vir Bezuidenhout en dat hy sy eie lewe probeer neem het omdat hy nie die skok van haar dood kon verwerk nie.

Bezuidenhout het vier skoolgaande kinders met haar man, Stephan. Hulle was besig om te skei toe sy McInnes in Mei vanjaar ontmoet het.

Die saak is voorlopig tot 13 September uitgestel.

Meer oor:  Pretoria  |  Selfdood  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.