Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Beskuldigdes in Anne Smith-moord blameer mekaar
Sizwe Jika
Sizwe Jika wag Vrydag in die hooggeregshof in Port Elizabeth waar slotbetoë in die saak gelewer is. Foto: Lulama Zenzile

Die beskuldigdes in die moord op Anne Smith (86) pak nou die skuld vir haar moord op mekaar.

Sizwe Jika en Junior Lungisa se prokureurs het Vrydag in hul slotbetoë in die hooggeregshof in Port Elizabeth hul kliënte se onskuld op die moordklag probeer bewys.

Albei regsverteenwoordigers het toegegee dat hul kliënte aan huisbraak en diefstal skuldig is, maar mekaar se kliënte blameer in ’n poging om hulle van die moordklag te distansieer.

Smith is op 27 Junie 2018 dood nadat sy op 28 Mei in die hoofhuis op die erf waar sy ’n woonstel in Kammapark, Port Elizabeth, gehuur het deur inbrekers met ’n hamer aangerand is.

Junior Lungisa
Junior Lungisa het sy gesig vir die media probeer wegsteek terwyl hy Vrydag in die beskuldigdebank van die hooggeregshof in Port Elizabeth gesit het. Foto: Lulama Zenzile

Sy is op 7 Junie 2018 uit die hospitaal ontslaan, maar is twee dae later weer opgeneem nadat sy geval en haar kop teen die vloer gestamp het. Sy is in die hospitaal dood.

Anne Smith
Anne Smith Foto: Argief

Jika word ook van die moord op Kelly Bain (26) en Anne Ferreira (83) in die stad aangekla.

Bain is in Julie 2018 met ’n skerp voorwerp doodgesteek terwyl sy saam met haar maand oue baba by haar huis in Brymore was. Ferreira is in Mei 2018 in Somerstrand vermoor. Die motief in albei gevalle was oënskynlik huisroof.

In sy pleitverduideliking het Jika die skuld vir Smith se moord op sy medebeskuldigde gepak en gesê hy het niks met die aanranding op Smith te doen gehad nie.

Jika het met die aanvang van die verhoor skuld beken op aanklag van huisbraak en diefstal deur te erken hy was in Smith se huis.

Gedurende die verhoor het Jika getuienis gelewer en homself as ’n huisbraakkenner bestempel, wat oor die afgelope dekade by meer as 100 huise ingebreek het, maar weggehardloop het as iemand by die huis sou opdaag.

Luidens Jika se pleitverduideliking het Lungisa vir Smith, wat die twee mans op heterdaad betrap het, met die hamer aangerand om “bewyse te vernietig”.

Khaya Saziwa, Jika se regsverteenwoordiger, het gesê sy kliënt het die hof uit die staanspoor in sy vertroue geneem met ’n pleitverduideliking.

Buiten ’n enkele vingerafdruk van Jika wat op ’n juweelkissie in die huis gekry is, meen Saziwa daar is geen ander bewyse of getuienis wat hom met die moord op Smith verbind nie; sy weergawe van die gebeure moet deur die hof aanvaar word.

Peet Schoonraad, Lungisa se regsverteenwoordiger, meen egter Jika het geweet die vingerafdruk plaas hom op die toneel en daarom het hy erken hy was in die huis, maar distansieer hom nou van die moord deur die skuld voor Lungisa se deur te plaas.

Lungisa het op sy beurt gesê hy was wel saam met Jika by die huis om in te breek, maar is nooit saam met Jika die huis binne nie.

Lungisa het aangevoer hy het buite die huis in die straat gewag, voordat hy later oor die grensmuur gespring het om na Jika te gaan soek.

Die huis in Kammapark, Port Elizabeth, waar Anne Smith tydens ’n huisbraak met ’n hamer aangerand is. Foto: Argief

Jika het volgens Lungisa kort daarna uitgekom en hulle het saam met ’n swart sak vol gesteelde goedere, wat juweliersware insluit, gevlug. Lungisa het verder erken hulle het van die juweliersware verkwansel en hy het ’n gedeelte van die geld ontvang.

Schoonraad sê daar is geen twyfel dat Lungisa deel was van die huisbraak en diefstal nie, tog het hy geen idee gehad wat in die huis gebeur het terwyl Jika gesteel het nie en hy kan dus nie skuldig bevind word aan moord nie.

Maar adv. Ismet Cerfontein, staatsaanklaer, meen albei beskuldigdes het erken hulle het beplan om na die Lorraine-woonbuurt te gaan met die doel om in te breek.

Volgens haar sou hulle moes kon voorsien iemand kan moontlik in die huis wees en dat hul misdaad tot ’n moord kon lei.

Sy het aangevoer die twee mans het met ’n gemeenskaplike doelwit opgetree en hulle moet albei aan die moord op Smith en huisbraak skuldig bevind word.

Cerfontein het ook daarop gewys dat medici getuig het dat die kopbeserings wat Smith tydens die huisroof opgedoen het komplikasies veroorsaak en uiteindelik tot haar dood gelei het.

Weens haar kopbeserings het Smith meningitis, pneumonie en septisemie opgedoen. Sy het ook bloedklonte ontwikkel.

Regter Elna Revelas sal op 13 Februarie uitspraak in die saak lewer.

Meer oor:  Anne Smith  |  Hooggeregshof  |  Port Elizabeth  |  Hamermoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.