Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Beslag gelê op POF se bankrekening-geld

Die Padongelukkefonds (POF) het twee dwarsklappe in die hof gekry met sy pogings om skuldeisers onbepaald te laat wag vir die geld waarop hulle weens beserings geregtig is.

Moedelose eisers het reeds in drie provinsies hul prokureurs opdrag gegee om op die fonds se roerende kantoorbates beslag te lê, want hulle kan nie meer vir hul geld wag nie.

Die balju’s het toe op die POF se kantore in Pretoria, Oos-Londen en Kaapstad toegeslaan.

331 Die getal dae wat die Padongelukkefonds sloer om uitbetalings aan suksesvolle eisers te doen.

Die POF het op sy beurt dringende tussentydse hofbevele bekom wat die eisers verbied om hul meubels te verkoop of gewone skuldinvorderingsprosesse te gebruik om hul geld te kry.

Die POF sê hy kan eenvoudig nie bekostig om eise te betaal sodra ’n hof hom beveel nie, want die ongeveer R2 per liter brandstofheffing wat alle motoriste betaal, is nie genoeg nie.

Volgens die fonds het sy inkomste boonop drasties gekrimp weens die swak ekonomie wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is. Dus moet hy ongelukeise uitbetaal “van die oudste na die jongste.”

Die fonds se standpunt is dat eisers net geduldig moet wees.

Twee regters het die afgelope tien dae min genade vir die POF se standpunt gehad.

Regter Dawie Fourie het voorverlede week in die hooggeregshof in Pretoria gesê sekere eisers wag al amper ’n jaar vir hul geld.

“Wanneer gaan hulle betaal word as daar geen struktuur is om betaling te verseker nie?”

Dis om dié rede dat 182 prokureursfirmas met lasbriewe beslag laat lê het op die POF se geld in sy bankrekeninge by Absa.

Fourie het gesê nadat ’n bedrag aan ’n eiser toegeken is, sal daar na verwagting ’n vertraging in die uitbetaling van die geld wees van 187 na 331 dae.

Die POF sê as hy nie sy bankrekeninge kan gebruik nie, sal dit tienduisende eisers benadeel wat wag vir hul geld.

Maar Shokeng Dlamini, balju van Centurion-Oos, sê die fonds kan steeds die bankrekeninge gebruik vir sy bedrywighede. Dis die geld daarin wat die 182 firmas soek waarop beslag gelê is.

Trouens, sê die balju, dié skuld het ontstaan nog voor Covid-19 die land getref het.

Fourie het gesê hy kan nie ’n bevel vir die POF verleen as daar geen stelsel bestaan om eisers te betaal nie.

Die POF moet verder in hofstukke sy standpunt kom verduidelik.

In nog ’n saak het regter Elmarie van der Schyff, ook van die hooggeregshof in Pretoria, Donderdag ’n tussentydse bevel wat die POF bekom het om meubels van sy kantoor in Menlyn te beskerm, tersyde gestel.

Van der Schyff sê die POF vra die hof vir ’n bevel wat alle eisers se beslagleggingsregte opskort, maar die hofstukke is net op een balju en een prokureursfirma beteken. Die POF moet sy huis in orde kry en ’n vars aansoek teen die nodige partye indien, het sy bevind.

Sy het gesê mense weet hulle moet in ’n tou wag om uitbetaal te word, maar die POF is sedert begin vanjaar totaal ondeursigtig in hoe hy eise hanteer. Hy het die “betalingslys” gelos waarvolgens eise in volgorde gelys en uitbetaal is.

Meer oor:  Eise  |  Padongelukkefonds (Pof)
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.