Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Betaal, of jou saak word nie aangehoor

Niks gebeur in die hooggeregshof in Pretoria as jy nie eers omkoopgeld betaal nie, beweer raadop prokureurs.

Beweerde omkopery in die hooggeregshof in Pretoria is op ’n WhatsApp-groep van vroulike advokate en prokureurs bespreek.

En personeel wat by sulke korrupsie betrek word, verloor nooit hul werk nie – hulle word eerder “rondgeskuif”.

Die direkteurs van twee prokureursfirmas het op voorwaarde van anonimiteit vir Rapport vertel hulle kry nie hofdatums nie omdat hulle weier om omkoopgeld te betaal. Hulle vrees as hulle uitpraat, sal hulle verder geviktimiseer word.

“Dis nag in daai hof,” sê een prokureur.

Tydens inperking “kos” ’n dagvaarding volgens haar R500. Haar klerke word R300 gevra om ’n datum vir ’n saak te laat plaas op die rol van die mosiehof, wat onder meer egskeidings, onderhoudsake en aansoeke om kurators aanhoor. “Die amptenare sê die rol is vol, maar hulle kan jou indruk teen R300.”

Sy het op 21 Mei aansoek gedoen vir hofdatums vir drie sake op die onbestrede mosiehofrol. As haar personeel die hof hieroor bel, antwoord niemand nie. Ook e-posse om saaknommers te kry, dagvaardings te laat uitreik en verhoordatums te kry, bly onbeantwoord. “As ons bel, sê hulle hulle is besig of hulle antwoord nie die foon nie. As daar firmas is wat datums op volgende jaar se hofrol kry, sal dit firmas wees wat weet wie om om te koop. Mosiehofpersoneel se onbehulpsaamheid duur al drie jaar. Ook die R300-omkoopgeld is ’n ou probleem. Die personeel word nie afgedank nie, net rondgeskuif. Dan word ons net gepenaliseer op ’n ander plek deurdat hulle weier om jou te help.”

Prokureurs sê R300-omkoopgeld is ’n ‘ou probleem'.

Die ander prokureur sê “sekere personeel” eis omkoopgeld vir hulp met basiese prosesse.

Sy het op 21 Julie in ’n e-pos aan Tiaan Joubert, voorsitter van die Pretoriase Prokureursvereniging (PPV), geskryf: “Ek is nou net deur my bode ingelig dat die personeel by die hof steeds R300 versoek om iets uit te reik en R100 om iets te liasseer. My bode weier natuurlik om name vir my te gee.”

Haar firma se bodes gaan hof toe omdat die firma nie per e-pos iets met die hofpersoneel uitgerig kry nie. Sy het op 26 Junie ’n kliënt van haar se dagvaarding per e-pos hof toe gestuur. ’n Maand later is dit steeds nie uitgereik nie en dit affekteer regsfirmas en hul kliënte se brood en botter, sê sy.

’n Prokureur se e-pos op 21 Julie aan die Pretoriase Prokureursvereniging waarin sy vertel van amptenare by die stad se hooggeregshof wat haar bodes vra vir omkoopgeld.

“Alles moet weens die inperking per e-pos gebeur. As jy ’n datum wil hê, moet jy die versoek na ’n spesifieke e-pos stuur. As jy ’n nuwe saak wil uitreik en jy soek ’n saaknommer, moet jy dit na ’n spesifieke adres stuur.”

Haar e-posse spring soms vir tot drie weke terug, want amptenare se e-posbusse is vol. “Die hooggeregshof in Pretoria verval elke dag meer en meer.”

Regsfirmas en die prokureursvereniging het die probleme al met die hof se griffiers bespreek. “Ons sit met die hande in die hare. Ons kan geen diens aan ons kliënte lewer as die hof nie werk nie. Elke persoon het die grondwetlike reg van toegang tot die hof.” Die oponthoude kan veral kleiner firmas kelder .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.