Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Betogers volg vermeende moordenaar tot by sy werk

Nicole Bester het baie meer vir ander as vir haarself omgegee, en die enigste rede dat sy teruggegaan het na haar kêrel, was omdat sy sy twee kinders baie liefgehad het.

Sy het vir húlle teruggegaan, het haar ma, Cashandra Bester, gesê toe sy Woensdag saam met familie en vriende buite die landdroshof in Bellville betoog het.

Bester se kêrel, Oliver Pillay (39), het vir die tweede keer op ’n aanklag van moord in die hof verskyn.

’n Ondersteuner troos Cashandra Bester buite die landdroshof in Bellville. Haar man, Stewart, en dogter Chelsea staan agter haar. Foto: Adrian de Kock

Bester se pa, Stewart, en een van haar susters, Chelsea, was in swart geklee en het saam met die groep van sowat 30 mense voor die hof betoog. Hulle het plakkate met foto’s van Bester en boodskappe soos “Justice for Nicole Bester”, “Stop violence against women” en “No Bail for a murderer” vasgehou.

Pillay, wat op 25 Februarie in hegtenis geneem is, was een nag in polisieaanhouding, waarna hy die volgende dag op borgtog van R2 000 vrygelaat is.

“Ek weet nie eintlik hoe ons hieroor voel nie. Is my dogter se lewe dan net R2 000 werd?” het Cashandra buite die hof gesê.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het gesê die saak is vir verdere ondersoek tot 11 Junie uitgestel.

Bester was ’n student in aptekerswese aan die Universiteit van Wes-Kaapland en die ma van ’n vyfjarige meisietjie. Haar lyk is op 22 Augustus verlede jaar aangetref in ’n woonstel naby die Durbanville Hills-landgoed, waar sy sowat ’n jaar lank saam met haar vriend gewoon het.

Stewart, Cashandra en Chelsea Bester Woensdag buite die landdroshof in Bellville. Foto: Adrian de Kock

Aanvanklik is vermoed dat sy haar eie lewe geneem het deur ’n oordosis pille te drink.

“Ons het ’n oproep gekry dat sy dood is en verder kon ons niks meer uitvind nie. Eers in Februarie het hulle ons laat weet dat sy verwurg is,” het Cashandra gesê.

In die lykskouing is ’n blou merk onder Bester se ken gevind. Volgens die uitslag van die lykskouing is sy verwurg.

Die familie het glo eers later gehoor dat Pillay in verband met haar moord in hegtenis geneem is.

Cashandra het gesê haar dogter het elke keer as sy en Pillay uitmekaar is, teruggegaan omdat sy Pillay se twee kinders baie lief gehad het en besorg oor hulle was.

Oliver Pillay daag by die hof op. Foto: Adrian de Kock
Betogers staan met plakkate met foto’s van Nicole Bester op. Foto: Adrian de Kock
Nicole Bester se gesig is op die plakkate vertoon. Foto: Adrian de Kock
Betogers het die beskuldigde, Oliver Pillay, ná sy hofverskyning tot by sy werkplek gevolg. Foto: Adrian de Kock
Die akteur Sivuyile Ngesi (in die middel met die masker) het sy ondersteuning gewys en saam voor die hof betoog. Foto: Adrian de Kock
Betogers loop na die ingang van die Kasselsvlei-kliniek, waar die moordbeskuldigde, Oliver Pillay, werk. Foto: Adrian de Kock

“Sy was baie lief vir haar eie kind, maar het haarself uitgesit vir hulle,” het sy gesê.

“Ons baklei vir ons kind en vir geregtigheid, en hoewel hy sê hy het dit nie gedoen nie, weet ons hy het,” het sy gesê.

Nicole Bester (23) Foto: Argief

Die gesin beweer dat die polisie geen inligting met hulle deel nie, en dit is waarom hulle besluit het om self hof toe te kom om te kyk wat in die saak aangaan.

Ná die hofverskyning het van die betogers Pillay na sy werkplek in die Kasselsvlei-kliniek gevolg en voor die veiligheidsheining betoog. Hulle het van hul plakkate ook daar vasgebind.

Volgens Chelsea was haar suster die mooiste mens wat altyd ander voor haarself gestel het.

“Sy was altyd daar vir my en het my beskerm. Ons het mekaar in die laaste tyd nie so baie gesien nie omdat ek ook ’n baba gehad het, maar sy was daar die dag toe ek gekraam het.”

Bester se dogter bly nou by haar biologiese pa.

Meer oor:  Cashandra Bester  |  Nicole Bester  |  Betogers  |  Moordenaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.