Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Bevindings teen hom ‘ongeldig’, sê afgedankte LUR
Dr. Bandile Masuku, afgedankte Gautengse LUR vir gesondheid. Foto:Verskaf

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se bevindings teen hom is “onwettig, ongrondwetlik en daarom ongeldig”, sê dr. Bandile Masuku, afgedankte Gautengse LUR vir gesondheid.

Masuku bring in die hooggeregshof in Pretoria ’n dringende aansoek teen die SOE waarin hy vra dat die bevinding teen hom ter syde gestel word.

Hy noem David Makhura, Gautengse premier, asook pres. Cyril Ramaphosa as tweede en derde respondente in sy aansoek, hoewel hulle net weens hul ampte ingesluit word.

Volgens ’n beëdigde verklaring ter ondersteuning van die aansoek, wat Vrydag deur Masuku onderteken is, noem hy dat die SOE se bevindings in twee dokumente, die eerste op 18 September en die tweede op 1 Oktober, striemende en ongegronde bevindings teen hom bevat.

“Dit is eenvoudig onwettig en ongrondwetlik,” voer Masuku aan.

Hy sê die “ingekleurde en flambojante” taalgebruik daarin het ten doel om hom die gesig te maak op die plakkate van Covid-19-verwante korrupsie. Hy sê dit skend baie meer as sy politieke beeld. Dit skaad ook sy professionele integriteit en sy beeld as mediese dokter.

“As uitvoerende bestuurslid was ek nooit betrokke by die verkryging van persoonlike beskermende toerusting nie. Ek het ook nie gevra om betrokke te raak nie,” sê Masuku in sy beëdigde verklaring.

Hy voer aan die besluit om die verkrygingsproses van toerusting te sentraliseer, was nie syne nie, maar dié van die premier en in ooreenstemming met die riglyne van nasionale tesourie.

Volgens Masuku maak die SOE staat op ’n e-pos wat die finansiële hoof van die provinsiale gesondheidsdepartement (in daardie stadium Kabelo Lehloenya) op 1 April aan hom gestuur het. Dit begin so: Geagte LUR. Vind asseblief hiermee die lys soos aangevra is.” Die e-pos sluit dan ’n lys van diensverskaffers in.

Masuku sê hy het nie eens die e-pos opgemaak nie en het eers van die inhoud daarvan bewus geword toe die SOE dit op 14 Augustus aan hom gewys het.

As uitvoerende bestuurslid was ek nooit betrokke by die verkryging van persoonlike beskermende toerusting nie. Ek het ook nie gevra om betrokke te raak nie.

Masuku sê hy het ’n lys van diensverskaffers aangevra omdat die Motsepe-stigting so ’n lys wou hê omdat hulle toerusting aan die gesondheidsdepartement geskenk het.

Masuku sê nadat hy en die finansiële hoof daaroor gepraat het, sou die beampte die lys self na die Motsepe-stigting stuur.

Oor sy vriendskap met Khusela Diko, presidensiële woordvoerder, en haar man, Thandisizwe, se maatskappy Royal Bhaca Projects (RBP), se beweerde betrokkenheid by tenders om persoonlike beskermende toerusting aan die Gautengse regering te verskaf, sê Masuku hy het nie geweet Diko se man het ’n tender gekry nie.

Hy was verbaas en het gedink hy moet ten minste ingelig gewees het. Hy sou hy voorgestel het dat RBP nie ’n tender insit nie, net soos wat sy raad sou wees aan enige familielid, vriend of iemand wat hy van naby ken.

Masuku vra dat sy aansoek op ’n dringende grondslag op 24 November deur die hooggeregshof aangehoor moet word.

Meer oor:  Bandile Masuku  |  Gauteng  |  Afgedank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.