Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Bewaarder vermoor, 1 verkrag: Bendeleier swaar gevonnis

’n Bendeleier wat ’n vroulike bewaarder in die Goedemoed-tronk met ’n hamer aangeval en toe met ’n stuk skêr keelaf gesny het en daarna ’n ander een verkrag het, is in die Vrystaatse hooggeregshof twee keer tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Terwyl bewaarders, polisiebeamptes en medegevangenes in die tronk in die Rouxville-distrik in die Vrystaat aan die anderkant van ’n geslote hek geskreeu en gesoebat het dat hy die hek moet oopsluit, het Madala Jongikhaya Sam-Sam (37) rustig ’n sigaret gerook, terwyl Nomsa Joyce Stuurman haar ’n entjie daarvandaan doodgebloei.

Madala Jongikhaya Sam-Sam nadat hy Donderdag in die Vrystaatse hooggeregshof gevonnis is. Foto: Mike van Rooyen

Sam-Sam het vir hulle gesê hy wil net ’n rukkie tyd hê om te bid voordat hy die hek oopmaak.

Hy gaan dreig toe die ander vrou met die skêr waarmee hy Stuurman se keel oopgesny het en verkrag haar.

Regter-president Cagney Musi het gesê dit is duidelik dat rehabilitasie vir Sam-Sam nie ’n opsie is nie. “Jy is ’n geweldenaar wat vir altyd uit die samelewing verwyder moet word.”

Sam-Sam was juis besig om twee lewenslange vonnisse vir verkragting uit te dien toe hy op 29 Maart vanjaar die twee vroue aangeval het.

Vir ontvoering is hy tot ’n verdere vyf jaar tronkstraf gevonnis.

Musi het gesê die misdade was vooraf beplan. Sam-Sam het genoeg geleentheid gehad om sy plan te heroorweeg.

Hy het verseker dat daar die middag voor huistoegaantyd geen mans in die kantoorblok was waar hy as skoonmaker gewerk het nie. Hy het die hek gesluit en lessenaars voor dit gepak.

Subashini Moodley (links), streekskommissaris van die departement korrektiewe dienste in die Vrystaat en Noord-Kaap, gesels Donderdag in die Vrystaatse hooggeregshof met adv. Moipone Moroka, die aanklaer in die verhoor van Madala Jongikhaya Sam-Sam. Foto: MIKE VAN ROOYEN

Hierna is hy na Stuurman se kantoor waar hy haar aangeval het. Sy het probeer vlug en op ’n tafel voor die hek geklim. Sy het by hom gepleit. Toe slaan hy haar met die hamer teen haar agterkop en sny haar keel af.

Op die mense aan die anderkant se pleidooie dat hy moet oopmaak sodat hulle haar kan help, het hy gesê sy is klaar dood. Hy het sigarette gevra, en toe die ander bewaarder gaan verkrag.

Musi het gesê verkragting is ’n vernederende misdaad deur iemand wat geen respek vir ander se menswaardigheid het nie.

“Dit moes vir haar baie vernederend gewees het om daar uit te kom en om al daardie mense, wat geweet het wat met haar gebeur het, in die gesig te kyk,” het Musi gesê.

Blykbaar het Stuurman vir Sam-Sam geterg omdat sy familie nie bereid was om hom in te neem as hy op parool vrygelaat sou word nie.

Luidens Sam-Sam se pleitverduideliking het hy vir Stuurman gesê: “Ek het vir jou gesê ek gaan jou kry.”

Sam-Sam het ook beweer ’n beampte van korrektiewe dienste het hom R100 000 aangebied as hy Stuurman vermoor. Dit is omdat dié hom nie betaal het nie, dat hy besluit het om ’n bekentenis voor ’n landdros af te lê, het Sam-Sam gesê. Die departement van korrektiewe dienste ondersoek nog dié bewerings.

Adv. Moipone Moroka het aangekla. Venecia Abrahams van Regshulp SA het vir Sam-Sam opgetree.

Meer oor:  Moord  |  Hof  |  Vonnisoplegging  |  Bewaarder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.