Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Bewaarders vat my grimering!

’n Transgender-gevangene wat daarna smag om ’n vrou te word, vra die gelykheidshof in Kaapstad om die tronkowerhede te dwing om haar toe te laat om grimering en vroueonderklere te dra en haar hare te laat groei.

Jade September

Jade September, voorheen bekend as Jerome Benjamin, is in Mei 2013 tot 15 jaar tronkstraf gevonnis nadat sy Graham Flax (64) in Seepunt doodgesteek het.

Haar hofaansoek teen die minister van justisie en korrektiewe dienste en die Helderstroom-tronkowerhede word later in November aangehoor.

Jade (in haar 30’s) sê in hofstukke: “Ek is nie ’n gay man nie. Ek is ’n transgender-vrou.”

Sy is ’n man gebore, maar sê haar geslagsidentiteit is dié van ’n vrou. In Helderstroom loop sy deur onder teistering en onbillike diskriminasie omdat sy transgender is.

Volgens Jade weier die Helderstroom-tronkhoof om haar as vrou te behandel. Sy mag nie grimering of vroueonderklere dra nie. (In Suid-Afrikaanse tronke word vroue toegelaat om grimering te dra en hul hare te doen.)

‘Ek wou hom net beroof.’

Jade sê sy word “beveel of gedwing” om haar hare te sny en sy word nie as ’n vrou aangespreek deur die gebruik van die vroulike voornaamwoord nie. Sy wil haar onderklere en grimering waarop beslag gelê is, terughê.

Sy sê aanvanklik het dit goed gegaan in die Helderstroom-gevangenis. Sy kon haar hare lank dra in vlegsels en die skoonmakers het vir haar grimering gebring. Niemand het ooit gekla nie, selfs nie die tronkhoof nie. Sy kon mooi aantrek en deelneem aan drama- en talent­opvoerings in die tronk.

Toe Helderstroom opgegradeer is, is sy na die Brandvlei-tronk oorgeplaas, waar sy sleg behandel is. Haar onderklere en grimering is as onwettighede gekonfiskeer.

Sy is in Maart 2016 terug Helderstroom toe, maar haar omstandighede was erger as ooit. Sy weet nie hoekom die houding teenoor haar in Helderstroom verander het nie.

Die tronkhoof het gesê hy sal nie toelaat dat sy soos ’n vrou lyk nie, want sy is ’n man.

Die enigste vroulike klere wat sy in die tronk mag dra, is die onderklere. Die res is “standaard-tronkklere”.

Sy sê sy wil ’n bietjie oogomlyner, lipstiffie, blosser en maskara opsit en lang hare hê.

In hofstukke vertel sy dat sy deur haar grootouers as seun grootgemaak is.

“Ek het nooit my pa geken nie en my ma was ’n dwelmverslaafde.”

Op nege is haar ouma dood. Haar oupa het weer getrou en sy het nie met sy nuwe vrou oor die weg gekom nie. “Boonop kon my oupa nie my vroulikheid aanvaar nie, wat my van jongs af uitgestoot laat voel het. Hy het dit as homoseksualiteit beskou. Ek het geweet ek is anders en omdat volwassenes aanvaar het dat ek homoseksueel was, het ek aanvanklik ook so gedink.”

Sy sê dit was moeilik om ’n man in die spieël te sien.

“Ek het volledig binne gevoel, maar nie buite nie.”

Sy is op 15 uit die huis en het Alfred, ’n Switser, ontmoet. Hy was sowat 50. Hulle was minnaars en hy haar versorger. Sy het in Claremont, Kaapstad, by hom ingetrek.

“Alfred wou hê ek moes gay wees en nie transgender nie.”

Sy het van dwelms afhanklik geword en die verhouding het in 2012 skipbreuk gely hieroor.

Daarna het sy “meer soos ’n vrou begin leef” en ’n aanlyn gesellindiens begin.

Oor die moord op Flax sê sy dat sy hom in 2013 deur die gesellindiens ontmoet het. Sy het ’n naweek saam met hom deurgebring waarvoor hy haar slegs R20 betaal het.

Dit was ’n belediging, “want hy het die bepalings van my diens geken en eenvoudig besluit om dit te ignoreer, asof ek niks was nie”.

Sy het besluit om wraak te neem deur hom die volgende naweek te beroof.

Sy het dwelms gebruik om die moed hiervoor bymekaar te skraap.

Die volgende oomblik het sy met ’n bebloede mes en ’n bottel whisky oor hom gestaan. Sy glo sy het hom in ’n bedwelmde staat doodgemaak en dat dit nie opsetlik was nie.

“Ek wou hom net beroof.”

Meer oor:  Jade September  |  Transgender  |  Gevangenes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.