Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Beweerde Pta-aanrander wil skuld beken, hoor hof

’n Man wat met verskeie aanrandings in Pretoria verbind word, wil nou ná sowat ’n maand in aanhouding skuld op die hangende sake teen hom beken.

Francois Leibrandt (24) het Woensdag op twee verskillende sake in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn.

francois leibrandt
Francois Leibrandt tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Deaan Vivier

In die een saak word hy en vier ander daarvan aangekla dat hulle in Julie 2018 by Die Dansvloer in die noorde van Pretoria twee mans aangerand het met die opset om hulle ernstig te beseer. Donald Kearny is met ’n onbekende voorwerp geslaan, terwyl Steve Fourie met vuiste getakel en geskop is.

Leibrandt, Tyrone Venter (die eggenoot van Leibrandt se huidige meisie, Cindy, hul egskeiding is hangende), Michael Leibrandt (sy neef), Michael Schoeman en Shane Venter (Tyrone se broer) is elkeen destyds vrygelaat op borgtog van R1 000.

Leibrandt was tydens die voorval uit op borgtog in ’n ander saak waar hy en nog ’n vriend van aanranding met die opset om ernstig te beseer en poging tot moord aangekla is ná ’n voorval in 2016. Hulle het hierop skuld ontken.

In Junie 2019 is Leibrandt, sy huidige meisie, Cindy Esterhuizen, en ’n vriend, Jacques van der Merwe, in hegtenis geneem op aanklagte van aanranding, sowel as aanranding met die opset om ernstig te beseer nadat polisiekonstabel Leon Mentz en sy broer, Arrie, by Die Kantoor na bewering aangerand, met ’n bottel geslaan en met ’n stukkende drinkglas in die gesig gegooi is.

Leibrandt is op 9 Julie in dié saak borgtog geweier nadat die gemeenskap ’n petisie opgestel het teen sy vrylating en die hof gehoor het van die hangende sake teen hom wat glo gepleeg is terwyl hy op borgtog was.

Hy is sedertdien in aanhouding.

Die verhoor in Die Dansvloer-saak moes Woensdag begin, terwyl Leibrandt ook in ’n ander hofsaal moes verskyn vir die Mentz-saak.

Hy het Woensdag uit die aanhoudingselle gekom, dié slag nie geklee in ’n T-hemp en denim nie, maar met ’n netjiese broek en das.

Konst. Leon Mentz kort nadat hy glo deur Francois Leibrandt, sy meisie en ’n vriend aangerand is.

Sy prokureur, Cara Alberts, het aan landdros Pierre Wessels gesê Leibrandt is “van voorneme om skuldig te pleit ten aansien van dit wat hy gedoen het”.

Dit geld ook die Mentz-saak.

Sy het verduidelik dat hulle sal versoek om Leibrandt se verhore van dié van sy medebeskuldigdes in die twee onderskeie sake te skei.

Al die hangende sake (wat nog nie verhoor word nie) teen hom sal dan gesentraliseer word, wat beteken dat al die aanklagte op een klagstaat aan hom gestel sal word.

Wessels het hierop die klaers na vore geroep en verduidelik, terwyl Leibrandt op die oog af ongemaklik in die beskuldigdebank gewieg en getrippel het, dat daar prosesse is om al die sake saam te voeg, sou Leibrandt voortgaan om skuld te beken op die aanklagte voortspruitend uit die twee sake.

Hy sal weer later die maand in die hof verskyn vir dié proses.

* Alberts het buite die hof verduidelik dat hulle “alles” wil saamvoeg, insluitende die Mentz-saak, “om nie tyd te mors nie”.

Sy het bygevoeg dat hoewel dit “moeilik” is vir Leibrandt in die tronk, hy sedert sy aanhouding – “al word hy (in die tronk) uitgelok – nog nie een keer sy vuiste gelig het nie”.

“Hy sal tydens sy pleit ook getuig oor sy kant van die saak,” het Alberts gesê.

* Die deelsverhoor in die 2016-saak gaan voort. Leibrandt het ook ander soortgelyke sake teen hom wat nog ondersoek word.

Meer oor:  Francois Leibrandt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.