Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Bitcoin-sage: MTI kry 4 voorlopige likwidateurs

Die meester van die hooggeregshof in Kaapstad het Dinsdag vier voorlopige likwidateurs aangewys om beheer oor Mirror Trading International (MTI) te neem.

Adriaan Willem van Rooyen, Herman Bester, Jacolien Frieda Barnard en Deidre Basson het nou tydelik beheer oor MTI en moet ondersoek instel na wat in die maatskappy gebeur het en waarheen van R6 miljard tot R8 miljard verdwyn het.

Volgens kenners is MTI met meer as 280 000 skuldeisers van verskeie lande een van die grootste piramide-bedrogskandale wat die land nog gesien het.

Johann Steynberg, hoof van Mirror Trading International (MTI). Foto: Facebook

Johann Steynberg (37) van Polokwane het MTI in April 2019 begin. Hy het MTI glo gebruik om die geld deur die kriptogeldeenheid bitcoin te swendel.

Hy het intussen verdwyn en is glo in Brasilië, waar niemand kontak met hom kan maak nie.

Twee van die krediteure, Steven Watkins van Pretoria en Anton Lee van Empangeni, het verlede jaar afsonderlik dringende aansoeke by die hof ingedien.

Hulle het onderskeidelik R150 000 en R1 miljoen by MTI belê.

Nie MTI of Steynberg het die aansoek teengestaan nie.

Regter Owen Rogers het MTI einde verlede jaar voorlopig met ’n terugkeerdatum van 1 Maart gelikwideer.

Sedertdien was daar ’n hewige stryd tussen likwidateurs om as MTI se voorlopige likwidateurs aangewys te word.

Rogers het die saak tot Maart uitgestel om enige partye wat belange by die saak het of redes kan verskaf waarom die finale bevel nie bekragtig moet word nie, die geleentheid te gee om dit te notuleer.

Anyuschka Nett van Luitingh-prokureurs, wat Watkins verteenwoordig, het verduidelik hoe die proses nou sal verloop.

Die vier likwidateurs wat voorlopig aangewys is, het in die kort tydjie sedert die bevel gemaak is, die meeste nominasies van skuldeisers bekom.

Nett sê hulle ondersteun Manci Knoop Likwidateurs en daar is steeds ’n kans dat hulle as die finale likwidateurs aangestel kan word.

Die rede is omdat daar steeds krediteure is wat eise indien namate inligting oor MTI versprei en meer mense bewus word daarvan.

Die voorlopige likwidateurs sal nou die bates en laste nagaan en dan ’n verslag saamstel en aan skuldeisers stuur oor die moontlike risiko van verdere koste vir eisers en die waarskynlikheid van die terugbetaling van hul beleggings.

“In teorie sal hierdie brief krediteure in staat stel om ’n ingeligte besluit te kan neem oor of hulle met eise teen MTI wil voortgaan,” sê Nett.

Hierna sal alle krediteure hul vorms moet indien aan die likwidateur van hul keuse.

Elke krediteur wat ’n eis suksesvol ingedien het, het die reg om op die eerste krediteursvergadering te stem vir wie hulle dink die amptelike en finale likwidateurs moet wees.

Hierdie vergadering sal gehou word sowat ses tot agt weke nadat die bevel op 1 Maart gemaak is.

Volgens Nett sal die krediteure dan op hierdie vergadering kan stem.

“Met ander woorde, die krediteure het die mag as ’n groot groep om die finale likwidateurs aan te stel.”

Nett sê omdat hierdie saak vreeslik baie krediteure het, het hulle besluit om nou te begin om die vorms in te samel en seker te maak dit bevat al die vereistes sodat die meester dit op die eerste vergadering aanvaar.

Nett sê belangstellendes kan meer inligting by www.mtiliquidation.co.za kry.

Ander likwidateurs wat betrokke is, is Sebenza-trust, Tygerberg-trust en Invest-trust.

Nett sê hulle sal geen eise indien voordat hulle nie bevestiging van die voorlopige likwidateurs kry oor die ekstra koste nie.

• Die Gedragsowerheid vir die Finansiëledienstesektor het mense verlede jaar gewaarsku teen MTI en aangevoer Steynberg bedryf ’n onwettige piramideskema.

Strafregtelike klagte is teen MTI en Steynberg by die polisie ingedien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.